Wat het Tshwane se mislukte slimmeter-tenderspul tot dusver gekos, wie moet daarvoor verantwoordelikheid gehou word  en wat is die rol van politici in die aangeleentheid?

Dit is van die vrae wat die VF Plus die Openbare Beskermer (OB) nou vra om te ondersoek in ʼn formele klag oor die aangeleentheid wat die party vandag by die OB ingedien het, sê mnr. Awie Erasmus, VF Plus-raadslid vir Tshwane-metro.

Dit volg nadat Tshwane-metro sy kontrak van R1,2 miljard met die firma PEU Capital, op 12 Mei vanjaar gekanselleer het.

In die klag vra die VF Plus die OB om die volgende te ondersoek:

  • Die prosedure wat gevolg is met die toeken van die tender aan PEU Capital, en of PEU aanvanklik voldoen het aan die vereistes om te kwalifiseer vir die tender.
  • Waarom die kontrak nie nagekom is nie (wat gelei het tot die kansellering daarvan).
  • Waarom so ʼn hoë tender aanvaar is terwyl dit veel goedkoper gedoen kon word.
  • Wie moet die skuld en kostes dra vir die kansellasie.
  • Het enige wanadministrasie plaasgevind en was daar ʼn vermorsing van staatsgeld.
  • Die ooreenkoms rakende die kanselleringsbedrag wat nog betaal moet word.
  • Of politieke inmenging of invloed enigsins ʼn rol in die aangeleentheid gespeel het.

Mnr. Erasmus sê daar is meer as voldoende bewyse dat die tender lank reeds in groot omstredenheid gehul is.

Die belangrikste hiervan is die voormalige minister van finansies, Pravin Gordhan, se skrywe in 2013 aan Tshwane se uitvoerende burgemeester, Kgosiento Ramokgopa, waarin hy sy bedenkinge oor die tender uitgespreek het. (Pretoria News, 10 Julie 2015).

“Gordhan het in die brief nie doekies omgedraai nie en het gesê die kontrak voldoen nie aan die toepaslike wetgewing nie omdat dit nie ‘n regverdige, billike, mededingende, kostedoeltreffende of deursigtige aanskaffingsproses gevolg het nie.

“Nieteenstaande al die waarskuwings is voortgegaan met die proses. Die VF Plus sal nie toelaat dat hier nog ʼn Nkandla kom waar staatsgeld vermors word sonder enige aanspreeklikheid nie.

“Die Openbare Beskermer sal hard en duidelik moet optree om hierdie soort van vermorsing van belastinggeld ook by ander metro’s en staatsinstellings in die land stop te sit,” mnr. Erasmus.