Die VF Plus moedig Afrikaanse ouers en studente aan om ʼn betaalstaking by die Universiteit van die Vrystaat (UV) te implementeer totdat Afrikaans-onderrig herstel is. Dis tyd dat die Afrikaanse gemeenskap met sy geld begin praat en daardie instellings wat Afrikaans minag dit in hulle sakke begin voel. Die eerste veldtog in die verband gaan nou teen die UV geloods word,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor hoër onderwys.

Adv. Alberts sê die UV se bestuur, by monde van sy rektor, Jonathan Jansen, het oor die jare telkens versekerings aan die VF Plus gegee dat Afrikaans ʼn taal van onderrig by die UV sal bly en het daarby die VF Plus telkens beskuldig dat die party besig is met bangmaak-stories oor Afrikaans.

“Dit blyk egter nou dat die VF Plus se waarskuwings dat Afrikaans uiteindelik by die UV gaan verdwyn, waar geword het. ʼn Mens kan net wonder hoe Jansen in die aand slaap na sy stories tot die teendeel wat hy aan die party en die Afrikaanse gemeenskap opgedis het.

“Die VF Plus versoek alle belanghebbendes in die kwessie om ʼn petisie in die verband te teken wat die VF Plus aan die UV se bestuur sal lewer as bewys van steun vir ʼn betaalstaking wat geïmplementeer sal word totdat Afrikaans weer as onderrigtaal ingestel word,” sê adv. Alberts.

  • Belangstellendes kan hul naam, van, kontakbesonderhede en hoedanigheid e-pos aan; uv@vfplus.org.za.