Die Vredefort-koepel wat vir Suid-Afrika ʼn erfenis-juweel moet wees waarmee duisende besoekers jaarliks na die land gelok word, het nou ʼn internasionale verleentheid geword waar miljoene rande se belastinggeld die afgelope jare vermors is, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Die moontlikheid word selfs genoem dat Unesco (die opvoedkundige, wetenskaplike en kultuur-organisasie van die Verenigde Nasies) sy klassifisering van die omgewing as wêreld-erfenisgebied kan terugtrek weens die gebrek aan samewerking van die ANC-regering.

Luidens die webwerf van Unesco is ʼn sperdatum van 1 Februarie vanjaar aan die regering gestel om aan sekere vereistes na te kom. Dit is nie gedoen nie.

Die Vredefortkoepel het sowat 2000 miljoen jaar gelede ontstaan toe ʼn meteoriet met ʼn deursnee van sowat 10 km, die aarde teen ʼn spoed van sowat 150 000 km\h getref het.  Die aarde se oppervlak was toe sowat 17 km hoër as vandag.

ʼn Krater van sowat 100 km wyd en veel dieper as 10km is veroorsaak. Erosie het veroorsaak dat dit intussen feitlik verdwyn het. Dit bly steeds die beste voorbeeld van ʼn reuse impaktoneel op aarde en is daarom uiters waardevol vir wetenskaplike navorsing.

Nadat die VF Plus talle klagte in die verband ontvang het, het die minister van toerisme, mnr. Derek Hanekom op skriftelike vrae geantwoord dat ʼn bedrag van R11,7 miljoen bewillig is net vir ʼn besoekersentrum.

Die bouwerk is in Augustus 2008 voltooi, maar die kwaliteit was so swak dat dit nooit in gebruik geneem kon word nie. Minister Hanekom sê selfs dit is so swak gebou dat dit lewensgevaarlik sou wees om die gebou binne te gaan.

Toergidse van Vredefort en Parys wat die gebied gereeld besoek, sê die gebou en die omliggende paaie is totaal vervalle. Die gebou is glo totaal geplunder deur vandale en haweloses het hul intrek daar geneem.

Luidens mediaberigte van destyds is altesame R18 miljoen bewillig vir die sentrum en om die gebied toeriste-vriendelik te maak met onder meer wandelpaaie en inligtingsborde. Ook daarvan is glo niks te sien nie.

Uit gesprekke met kundiges soos dr. Craig Smith, uitvoerende hoof van die Geologiese Vereniging van Suid-Afrika, en volgens die webwerf van Unesco, blyk dit dat Unesco die gebied nog net ‘gelys’ het as wêreld-erfenisgebied. Dit was reeds in 2005.

Suid-Afrika moes daarna verskeie stappe volg, soos om die gebied te ontwikkel en om dit deur wetgewing tot ʼn erfenisgebied te proklameer. Eers as hieraan voldoen is, kan Unesco dit tot wêreld-erfenisgebied proklameer.

Unesco self draai geen doekies om in hul skrywes nie en sê dat die teendeel eerder gebeur het en dat die gebied intussen ‘met opset vernietig word’. Van die ander probleme wat Unesco noem is onwettige praktyke, swak of afwesige bestuurstelsels en ʼn bestuurspan, grondwater-besoedeling, veral van die Vaalrivier, diefstal en vandalisme en ʼn gebrek aan toerismebestuur en –toegang.

Unesco het verlede jaar ʼn spertyd van 1 Februarie vanjaar vir die Suid-Afrikaanse regering gestel om aan die vereistes te voldoen, maar uit onder meer minister Hanekom se antwoord is dit duidelik dat niks daaraan gedoen is nie.

Dr. Mulder sê die regering sal verantwoording moet doen oor die wanbesteding van die geld.

“Ons wil weet hoe dit aangewend is. Aan wie het meer as R11 miljoen gegaan vir die swak bouwerk? Waar is die ander miljoene wat vir ander ontwikkelings gebruik moes word?

“Erger nog, die regering sal aan die publiek van Suid-Afrika moet verduidelik waarom hulle oënskynlik geen waarde heg aan iets so belangrik as ʼn wêreld-erfenisgebied nie. Nadat die R18 miljoen gestroop is, het die ANC se belangstelling in die gebied blykbaar daarmee saam verdwyn,” sê dr. Mulder.