Die aankondiging van die mynreus Anglo American Platinum (Amplats) dat hy sy myne in Suid-Afrika gaan verkoop, moet die ANC-regering se oë laat oopgaan oor die skade wat stakings en onversetlike vakbonde die land se ekonomie
aandoen, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor die ekonomie.

Dit volg op die uitgerekte staking van vyf maande in die platinumsektor en verskeie dreigemente van Amplats dat hy nie bereid is om sy bedrywighede in ‘n onvriendelike arbeidsomgewing voort te sit nie.

Daar word nou gevrees dat die verkoop van die myne tot 20 000 werkverliese tot gevolg kan hê. Dit volg op groot werkverliese in veral die motorvervaardigingsektor die afgelope paar jaar.

Adv. Alberts sê die regering asook vakbonde moet ter harte neem dat die land se ekonomie nie ‘n speelbal is wat onverwyld gyselaar gehou kan word nie.

“Dit is verstommend dat vakbonde nou hul ontevredenheid uitspreek oor die verkoop van die myne en gepaardgaande werkverliese. Die betrokke vakbonde en die regering moet mede-verantwoordelikheid aanvaar vir die 20 000 mense wat dalk sonder ‘n werk gaan sit.

“Gaan hulle nou vir die werkloses sorg en hul rekeninge betaal, of gaan hulle voort met stakings tot meer mense hul werk verloor?

“Wat nou gebeur, is presies waarteen die VF Plus gewaarsku het. Ons wil herhaal dat vakbonde wat te veel eis, bedroë daarvan gaan afkom as myne uit die land onttrek of op groot skaal begin meganiseer.

“Kundiges meen dat daar tot 200 000 werkverliese binne twee tot drie jaar in die vervaardigingsektor kan wees weens meganisering.

“‘n Gebalanseerde benadering by al die rolspelers is daarom nodig in ‘n omgewing wat arbeidsintensief is. Mense raak al hoe meer misbaar met tegnologiese vooruitgang, en die regering en vakbonde moet ter harte naam wat die uiteinde van die Amplats-staking is,” sê adv. Alberts.