Daar is steeds talle onsekerhede rondom sekere aspekte aangaande regulasies om die verspreiding van die koronavirus te beperk en die VF Plus sal help om antwoorde in dié verband te vind. Die regulasies bevat baie grys areas wat ruimte vir verskillende vertolkings skep.

Veral die regulasies aangaande die landbousektor gee min duidelikheid ten opsigte van onder meer lewende hawe en die vervoer van produkte na markte.

Die onsekerheid rondom vervoer het reeds probleme veroorsaak en die VF Plus is bewus van ʼn geval waar die polisie ʼn boer met inhegtenisneming gedreig het omdat daar nie duidelike riglyne en goeie kommunikasie hieroor is nie.

Daar heers ook onsekerheid rondom eenman-sakeondernemings wat noodsaaklike dienste verskaf maar wat nie kan registreer by die betrokke aanlyn-portaal as verskaffer van ʼn noodsaaklike diens nie. Daar is nie ʼn opsie vir eenmansake wat nie as beslote korporasie of maatskappy geregistreer is nie.

Die VF Plus is tans besig om druk te plaas op die departemente van handel en nywerheid en landbou in ʼn poging om hierdie onduidelikhede uit die weg te ruim om seker te maak landbouproduksie, die verskaffing van landbouprodukte en die lewering van noodsaaklike dienste en produkte gaan ongehinderd voort.

Dit is van die uiterste beland aangesien enige tekort aan voedselprodukte onnodige paniek onder die publiek kan veroorsaak. Suid-Afrika sal nie kan funksioneer indien hierdie grys areas in die regulasies nie so gou doenlik opgeklaar word nie.

Die situasie skep uiteraard ook onsekerhede by lede van die polisie en weermag wat die regulasies moet afdwing en die huidige stand van sake skep onnodige ruimte vir vertolking van die regulasies en kan lei tot konflik met die publiek.