Die vriendin van mnr. Jasper von Kleist (61) wat gisteraand in ʼn plaasaanval doodgeskiet is, me. Sonja Joubert, het vandag die bloedige toneel aan die VF Plus gewys en gesê dit het nie gelyk of die aanvallers iets wou roof nie, maar of hulle net die mense op die plaas voor die voet wou doodskiet.

Mnr. Von Kleist, ʼn voorman op die plaas Dale in die Tom Burke-omgewing, is dood nadat hy in die bolyf geskiet is. Me. Joubert is twee keer raakgeskiet. Een skoot deur haar arm en die ander deur haar skouer.

Mnr. Charlie Solomon, seun die bekende boer en plaaseienaar mnr. Nico Solomon, is ook gewond terwyl hy van die vier gewapende aanvallers probeer vlug het.

ʼn Uiters emosionele me. Joubert het vanoggend die bloedige toneel aan die VF Plus gewys en sê sy en mnr. Von Kleist het gesit en televisie kyk toe hulle skote buite gehoor het. Hier is haar woordelikse weergawe:

“Jasper het opgespring en op daardie oomblik het van die mans deur die voordeur op ons begin skiet. Die deur het glasvenstertjies en hulle kon ons binne sien. Nadat die eerste skoot my getref het, het Jasper voor my ingespring en hy is in die bors geskiet.

“Nog ʼn skoot het my getref en ons het geval met Jasper wat half oor my gelê het. Ek het gehoor hoe hy roggel. Toe hou die roggel op en ek voel hoe hy ophou asemhaal. Toe weet ek hy is dood.

“Die mans het niks gesê nie, niks gevra nie. Hulle het net van buite op ons geskiet. Dit was of hulle ons net wou doodmaak, niks anders nie…”

Sowat vyfhonderd boere van die omgewing het die polisie vanoggend gehelp met die soektog na die mans. ʼn Helikopter en ligte vliegtuig is ook gebruik. Volgens die polisie is daar selfone geroof.

* In nog ʼn voorval op ʼn kleinhoewe naby Port Elizabeth is ʼn egpaar in hul sewentigerjare en ʼn familielid in haar tagtigerjare Dinsdag in ʼn aanval beseer.

* Maandagaand is ʼn plaasbestuurder van Ladybrand vermoor en sy vrou met messe gesteek en verkrag.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, is tans in Brussel, België, waar hy plaasaanvalle en onteienings sonder vergoeding met verskeie mense en groepe soos Unpo (Unrepresented Nations & Peoples Organization) en die Vlaamse Belang Jeugaksie (in Gent) gaan bespreek.