Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het vandag in die parlement beswaar aangeteken teen die Vryheidsfront Plus se mosie sonder kennisgewing oor die afsterwe van prof. TT Cloete. Al die ander politieke partye het die mosie gesteun.

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, wat die mosie ingedien het, het in sy mosie onder meer gesê prof. Cloete het as literator, kritikus, digter, dramaturg, prosaskrywer en psalmverwerker oor jare ʼn besondere reputasie in Suid-Afrika en internasionaal verwerf en dit is bevestig deur die wêreldwye reaksie na sy dood.

Dr. Mulder sê dit is skokkend en betreurenswaardig dat ʼn Suid-Afrikaner wat in sy lewe so uitgeblink het dat hy internasionaal erkenning kry na sy afsterwe, deur kleinlike politiek van die EFF, nie in sy geboorteland se parlement erken mag word nie.

“Hierdie optrede wys opnuut wie en wat die EFF werklik is, en die mate waartoe hulle nie bereid is om erkenning te gee aan dit wat in Afrikaans en deur die Afrikaner bereik is nie,” sê dr. Mulder.

Hier volg die volledige mosie oor prof Cloete:

Mosie sonder kennisgewing

Ek stel voor dat die huis kennis neem:

Van die afsterwe van prof T.T. Cloete op 29 Julie 2015 in Potchefstroom.

Verder kennis neem:

Dat as literator, kritikus, digter, dramaturg, prosaskrywer en psalmverwerker prof T.T. Cloete oor jare ‘n besondere reputasie in Suid-Afrika en ook internasionaal opgebou het. Die internasionale reaksie na sy dood bevestig dit.

Dat prof Cloete byna al die literêre pryse in Suid-Afrika ontvang het vir sy kreatiewe werk. So is die belangrikste prys vir Afrikaanse literatuur, die Hertzog-prys, twee keer aan hom toegeken.

Dat hy as akademikus bykans 200 akademiese publikasies boeke, monografieë en artikels geskryf het en hiervoor onder meer die Gustav Preller-prys en die Pieter van Drimmelen-prys ontvang het.

Dat op 56-jarige ouderdom sy eerste digbundel verskyn het en hy vir die laaste tydperk van sy lewe primêr as digter bekend was. Tien digbundels het in hierdie tyd van hom verskyn. Sy poësie word allerweë baie hoog aangeskryf en die Hofmeyrprys is al drie keer aan hom toegeken en hy was onder andere ook die ontvanger van die Ingrid Jonkerprys.

Dat prof Cloete vir 10 jaar aktief gewerk het aan die omdigting van die Psalms waarvoor hy groot lof en die Andrew Murray-prys ontvang het;

Dat behalwe vir die talle toekennings wat prof Cloete van kulturele organisasies gekry het, die president se orde vir voortreflike diens in goud ook aan hom toegeken is.

Dat in 2002 die stadsraad van Potchefstroom ʼn spesiale toekenning aan hom gemaak het en dat die Noordwes Onderwysdepartement in 2004 die “Pioneer and education award”, hulle hoogste toekenning, aan hom toegeken het.

Dat prof T.T. Cloete as bekroonde digter, Bybelvertaler, letterkundige en wetenskaplike navorser gehuldig word vir die groot rol wat hy gespeel het in Suid-Afrika en in die ontwikkeling van die Afrikaanse taal.

Dat die Huis:

Sy simpatie en meelewing met die familie van prof TT Cloete uitspreek.

Dr. Pieter Mulder

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670