“Dit is ’n ernstige vraag waarom Afrikaanse TV-kykers wat nie meer die Afrikaanse televisie aandnuus kan sien nie, steeds TV-lisensies ten duurste moet betaal,” het dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier in die Parlement aan die minister van Kommunikasie gevra. Dr. Mulder het aan die Kommunikasie-debat deelgeneem.

Die skuif van die Afrikaanse televisie aandnuus en Afrikaanse aktualiteitsprogramme soos Fokus van TV2 na TV3 is kortsigtig, minag Afrikaans en maak uit ’n finansiële oogpunt nie sin nie, volgens Mulder.

“As na ’n taalkaart van Suid-Afrika gekyk word en dit met TV3 se uitsaai-voetspoor vergelyk word, is dit duidelik hoe die nuwe skuif Afrikaanstaliges in byna die hele Noord-Kaap, die Oos-Vrystaat, die Oos-Kaap en groot dele van die Wes-Kaap van die Afrikaanse nuus asook ander aktualiteitsprogramme soos 50/50 en Fokus in Afrikaans ontneem.

“Van alle staatsinstellings behoort die SAUK as openbare uitsaaier juis die een te wees wat die amptelike tale moet respekteer en moet sorg dat die grondwetlike beginsels rondom Afrikaans en ander tale bevorder en uitgeleef word.

Die sepie Sewende Laan bly by TV2 maar die Afrikaanse nuus word weggeskuif. Die SAUK sukkel om sy finansies te laat klop maar neem so ’n besluit waarmee die gewilde Afrikaanse advertensieblok in spitstyd in twee gedeel word. Dit gaan beslis ’n invloed op die kykertal tydens spitstyd hê en die SAUK gaan advertensie-inkomste inboet.

“Die VF Plus gaan ‘n skrywe rig aan die minister en die SAUK om onmiddellik hierdie besluit terug te trek. Dit sal ook na die portefeuljekomitee oor kommunikasie geneem word vir bespreking en antwoorde van die SAUK-bestuur. Indien dit nie werk nie, sal verdere stappe oorweeg word op grond van die wettigheid van die SAUK-optrede,” sê dr. Mulder.