Die blote feit dat die polisie en die staat se amptelike inligtingstegnologie-agentskap (Sita) binnegedring is, is skokkend en dien as bewys van die totale onbevoegdheid van die personeel wat die stelsel moet bedryf en beveilig.

Dit is ook verregaande van polisiekommissaris Khehla Sitole om sonder enige bewyse te sê die sogenaamde Boeremag het die stelsel binnegedring. Dit lyk na niks anders nie as ‘n rookskerm om die onbevoegdheid en onbekwaamheid by Sita te probeer verdoesel.

Die Ouditeur-Generaal (OG) het in sy ouditverslag vir die 16/17 boekjaar reeds bedenkinge gehad oor die bevoegdheid van die staat se rekenaarstelsel wat luidens die verslag nie verbeter het sedert die vorige boekjaar nie.

Die stelsel is in 2013 ook binnegedring toe ? kuberkraker toegang tot die polisie se databasis verkry het en sodoende die identiteit van 17 000 polisie-informante of “fluitjie-blasers” bekom het.

Die minister van staatsdiens en administrasie het toe in antwoord op ? parlementêre vraag van die VF Plus gesê daar is “verskeie veiligheidsmaatreëls” getref om toekomstige kraking te vermy. Dit blyk nou dat dit nie voldoende was nie.

Kommissaris Sithole moet aan die publiek verduidelik hoe dit moontlik is dat die staat inligting het oor wie sy mees geheime inligtingstelsel binnegedring het, maar tot nou toe niemand in verband daarmee in hegtenis geneem het nie.

Dit is ook insiggewend dat dr. Setumo Mohapi, uitvoerende hoof van Sita, sê hy het die “Boeremag-kwessie” by die Valke aangemeld vir ondersoek.

Dit spreek vanself dat ‘n staat se eie veiligheidsagentskap ? aangeleentheid van hierdie uiters sensitiewe omvang sal ondersoek. Dit wil nou voorkom asof ook dié agentskap nie meer in staat is om ? ondersoek van hierdie omvang te doen nie.

Mediaverklaring deur:

Dr. Pieter Groenewald

VF Plus-leier

2 Mei 2018