Tydens een van die wêreld se groot kommoditeit-siklusse het Suid-Afrika se mynbedryf gestagneer en het mynwerkers en die land ʼn duur prys betaal vir die verryking van ʼn paar mynmagnate en hul SEB-kamerade, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor minerale.

Adv. Alberts het vandag met die begrotingstem vir die departement van mineralebronne gesê die ANC het die land se mineralebronne geplunder onder die dekmantel van transformasie en produktiwiteit het bysaak geword.

Hy sê die politiek in Suid-Afrika het ʼn manier om ʼn mens nooit teleur te stel nie. Net wanneer jy dink dit kan nie erger gaan nie, dan kom daar uit die bloute nog ʼn skok waarby ʼn minister of senior ANC-lid of een of ander ANC-familiekonneksie betrokke is.

“Dit is natuurlik die aard van die verhaal in die mynwese in ons land. Die rykes word ryker sonder dat hulle waarde toevoeg, behalwe dat hulle nuwe vriende bygekry het wat deure kan oopmaak. Die armes word armer.

“Die departement word geteister deur skandale en die grootste daarvan is die geheimsinnige wyse waarop die Guptas se ICT-maatskappy ʼn aandeelhouding gekry het in die mynregte van Kumba se Sishen-myn. Gelukkig het die Grondhof in dié geval teen die Guptas beslis.

“Net wanneer jy gedink het alles oor die Guptas is gesê, dan stap die minister van mineralebronne, Mosebenzi Zwane, heel voor uit om vir Guptas te kolf. Hierdie keer nie met ʼn raaiselagtige uitreiking van een of twee mynlisensies nie, maar sommer om die Guptas na Switserland te vergesel om ʼn maatskappy daar te gaan oorreed om ʼn myn aan die familie te verkoop.

“Ek moet erken dit is uitstekende diens van die ANC. Die opposisie kan sekerlik nooit weer kla die regering is nie ernstig oor sake nie. Ongelukkig is dit die soort sake wat ʼn mens gereeld net suid van die Switserse grens in Italië sal aantref. Tipies vanwaar die Guptas graag opereer.

“Dit bring my natuurlik by die operasionele gedeelte van die familie-besigheid. Die Guptas kom as buitelanders nie in aanmerking vir SEB-status nie, maar die staat se besigheidstelsel funksioneer so goed dat jy sonder meer ‘n bemagtingsvennoot gegee sal word. Nie enige hierjy nie, maar ʼn persoon met ware invloed; sommer, die president se seun! En siedaar, jy is skielik bemagtig.

“Boonop word die beleggingspakket net beter. Volgens die minister se bemagtingsvoorstelle sal jy in staat wees om al jou aandele te verkoop teen ʼn heerlike wins en dan kan jy weer aansoek doen om bemagtig te word en sodoende weer aandele en regte teen ʼn appel en ʼn ei bekom bloot omdat jy ʼn Gupta is en jou vennote hoë-vlak swart ANC-gekonnekteerdes is.

“Ek wil die minister graag ʼn enkele vraag vra: Ek wil ʼn myn in Suid-Afrika koop maar die verkoper moet nog oorreed word. Wil die minister my asseblief vergesel na Liechtenstein om die eienaar se arm ʼn bietjie te gaan draai? Dit is vir ʼn goeie saak aangesien dit werk sal skep. Of is ek nie Gupta genoeg nie?” het adv. Alberts gevra.