Die VF Plus het ‘n dossier van meer as 100 bladsye vandag by die SAPD teen die ANC ingedien.

 

Dit volg na die vlaag van onluste wat Pretoria hierdie week geteister het weens Kgosientso Ramokgopa wat nie meer die ANC se burgemeesterskandidaat in Pretoria is nie. Die klagtes wat in die dossier bevat word behels:

  1. Sameswering om misdrywe te pleeg
  2. Intimidasie
  3. Aanranding
  4. Saakbeskadiging
  5. Aanhitsing van geweld

 

Die dossier is ingedien teen die leierskap van die ANC in Tshwane en Gauteng wie insluit:

 

  1. Die Premier, mnr David Makhura
  2. Die Gauteng-leier van die ANC, mnr Paul Mashitile
  3. Die huidige burgemeester van Tshwane, mnr Kgosientso Ramokgopa
  4. Die moontlike meesterbrein agter die onluste en geweld wat volgens berigte die “Court Classique Resolutions” sms onder ANC-lede uitgestuur het en ‘n vergadering onder 12 leiers van die ANC in die Court Classique Hotel in Arcadia gereël het om onluste in Pretoria te laat uitbars, die afgedankte adjunk-sekretaris van die ANC in Tshwane, mnr George Matjila.

 

Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr Philip van Staden, en die party se burgemeesterskandidaat in Pretoria en LP, Adv. Anton Alberts, het die klagtes teen die ANC aanhangig gemaak.  Die VF Plus is vol vertroue dat die reg sy gang sal gaan en dat die aangeklaagdes verhoor, skuldig bevind en gevonnis sal word.

 

“Die VF Plus kan nie langer toelaat dat onskuldige mense se lewens en eiendom weens politieke ontevredenheid in die ANC bedreig word nie.  Vyf mense is reeds dood en daarom sien die VF Plus hierdie misdrywe in ‘n baie ernstige lig.  Die belhamels wat hiervoor verantwoordelik is sal moet betaal vir al die skade en lewensverliese wat aangerig is”, sê Philip van Staden.

 

Die VF Plus gaan ook volgende week verdere klagtes teen die ANC by die OVK indien.