Die VF Plus verwelkom die uitspraak van die Grondwethof dat die verkiesing op 3 Augustus vanjaar voortgaan nieteenstaande probleme rondom woonadresse op die kieserslys, sê dr. Pieter Groenewald, voorsitter van die VF Plus.

Dr. Groenewald sê die uitspraak maak dit duidelik dat die integriteit van die verkiesingskommissie (OVK) onder verdenking is aangesien die hof beslis het dat die OVK nie hul statutêre of wetlike verpligtings in terme van die Kieswet nagekom het nie.

Hy sê dit beteken dat die optrede van die OVK, een van die kernpilare van die grondwetlike demokrasie wat tot nou toe bevind het dat verkiesings vry en regverdig is, onder verdenking is.

“Die uitspraak maak dit duidelik dat die OVK nie sy wetlike verpligtinge ten opsigte van die kieserslys nagekom het nie en hierdie uitspraak van die Grondwethof is ʼn kompromie ter wille van demokrasie om die verkiesing van 3 Augustus te laat voortgaan.

“Die hof maak dit egter ook duidelik dat enige toekomstige verkiesings streng aan al die wetlike vereistes sal moet voldoen, wat beteken die OVK sal voortaan moet seker maak dat alle kiesers op die kieserslys adresse het wat geverifieer kan word,” sê dr. Groenewald.