Banke wat hulle op riskante wyse blootstel aan die toestaan van onversekerde krediet stel nie net hulself in gevaar nie, maar hou ʼn bedreiging vir die hele land in met dié onverantwoordelike optrede, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

ʼn Goeie voorbeeld hiervan is African Bank wat die afgelope naweek gered moes word deur die ingryping van Gill Marcus, president van die Reserwebank. Marcus het ondersteuningsmaatreëls aangekondig wat African Bank ʼn uitkoms uit sy benarde situasie bied.

Volgens adv. Alberts was dit lank reeds duidelik dat African Bank in verknorsing was. Toe banke die laaste keer aan die parlementêre portefeuljekomitee vir handel en nywerheid verslag moes doen oor hul
geldsake, was dit reeds duidelik dat die bank te groot blootstelling gehad het aan die toestaan van onversekerde krediet.

“Die VF Plus sal die komitee versoek dat maatreëls ingestel word om seker te maak dat daar ʼn beter oorsig kom oor kwessies rakende kredietverlening.

“Ons sal vra dat banke kom verduidelik oor skuld wat te maklik uitgedeel word. Dit skep nie net ʼn maalkolk vir die publiek wat in die skuld-slaggat val nie, maar hou negatiewe gevolge vir die land se ekonomie in aangesien dit die belastingbetalers se geld is wat hierdie kwessie nou moet beredder,” sê adv. Alberts.