Die Verbruikerskommissie het vandag tydens ‘n vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid bekend gemaak dat die lank verwagte verslag oor vakansieklubs bekend gemaak sal word teen einde Augustus/begin September 2004.

Die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid, adv. Anton Alberts, sê die VF Plus is verheug hieroor en glo dat geregtigheid sal seëvier vir talle vakansieklub-lede wat gevange gehou word deur onbillike kontrakte en swak dienslewering.

Die kommissie het verder laat weet dat hy tans besig is met die formulering van die oortredings van die Wet op Verbruikersbeskerming deur die klubs waarna dit voorgelê gaan word aan die nasionale verbruikerstribunaal vir bekragtiging. Die bevindinge sal daarna van toepassing wees op alle klubs in die industrie.

Gevolglik sal alle vakansieklublede geregtig wees op die remedies soos uitgespel deur die tribunaal en sal elke klub moet sorg dat hy nie in stryd met die bevindinge optree nie.

Voorts het die kommissie ook laat weet dat hy die onreëlmatige praktyke mvan regspraktisyns in stryd met die Wet op Verbruikersbeskerming ondersoek om die bevindings ook aan die verbruikerstribunaal voor te lê.

Mev. Zodwa Ntuli, die adjunk direkteur-generaal van verbruikers en korporatiewe regulering in die departement van handel en nywerheid, het verder beaam dat die klagtes wat ingedien word rakende vakansieklubs van die meeste is wat hulle ontvang, dat daar ‘n geweldige hoeveelheid ongelukkigheid bestaan rakende vakansieklubs se optrede en dat veel van die industrie se optrede gewetenlose gedrag daar stel.

Dit is haar voorneme om ferm op te tree teen enige sodanige verbrekings
van die Wet op Verbruikersbeskerming.

“Dit lyk of die harde werk van die VF Plus wat hierdie kwessie betref
eindelik vrugte afwerp en dat die industrie wel gedwing sal word om sy
gedrag en kontrakte te verander om regverdigheid daar te stel vir sy
lede,” sê adv. Alberts.