Meer werksgeleenthede sal slegs geskep kan word indien die ekonomie groei. Om ‘n ekonomiese groeikoers wat welvaartsverbetering sal verseker, te realiseer benodig Suid-Afrika ‘n dramatiese verhoging in produktiwiteit. Die verhoging van produktiwiteit hang nou saam met werketiek.
Die kern van die huidige krisisse wat die Vrystaat in die gesig staar lê by gefaalde regeringsbeleid en ontoereikende werksetiek.
Anders as wat die agbare premier wil voorgee is ou toerusting nie te blameer vir die totale in duie stort van die Vrystaatse gesondheidssisteem nie. ‘n Tekort aan instandhouding as gevolg van ‘n tekort aan bevoegdheid en werksetiek tot op die hoogste vlak, is te blameer.
Hospitale en klinieke sonder water, sonder elektrisiteit, sonder medikasie, sonder genoegsame personeel, is nie ‘n uitdaging nie – dit is ‘n volskaalse krisis. Die agteruitgang van gesondheidsorgfasiliteite is ‘n skande en is onaanvaarbaar.
Drome is nie wat nodig is om hierdie krisis aan te spreek nie.
Die munisipaliteite van die Vrystaat verkeer in chaos. Plaaslike regerings faal die mense van die Vrystaat. Die finansiële toestand van munisipaliteite is ‘n krisis met uitstaande debiteure en krediteure wat hand uit ruk. Die huidige tendens van munisipaliteite om tariewe en erfbelasting buitensporig te verhoog, gaan slegs hierdie toestand vererger en die plaaslike ekonomie nog verder onderdruk plaas.
Daar sal dringend op plaaslike regeringsvlak ingegryp moet word om swak dienslewering en finansiële wanbestuur hok te slaan.
Die VF Plus verwelkom die premier se aankondigings in verband met infrastruktuurontwikkeling. Hierdie projekte en planne sal egter slegs slaag indien bedrog en korrupsie met die toekenning van tenders, effektief aangespreek word.
Daar is om elke hoek en draai – van staatsentiteite, munisipaliteite, provinsiale departemente tot by die kantoor van die Premier – bewerings en klagtes van korrupsie. Onder elke klip is daar ‘n ondersoek en ‘n verslag. Talle ondersoeke deur die openbare beskermer. Ondersoeke deur die nasionale tesourie. Dit is glad nie iets om op trots te wees nie. Dit belemmer die vooruitgang van hierdie provinsie. Dit belemmer dienslewering.
Wat ons benodig is ‘n hoë vlak forensiese en bedrog ondersoekeenheid. Ons benodig absolute deursigtigheid en daadwerklike optrede na aanleiding van afgehandelde ondersoeke en bevindings. Waar was die optrede na afloop van nasionale tesourie se verslag oor die provinsiale webtuiste wat meer as R40 miljoen gekos het?
Dit is nie ‘n prestasie om aan te kondig dat daar nou al 692 maatskappye van regeringsamptenare van die provinsiale gesentraliseerde diensverskafferdatabasis verwyder is nie. Dit is ‘n skande dat daar in die eerste plek soveel maatskappye was. Die klimaat van selfverrykking, bedrog en korrupsie is vir te lank toegelaat.
Die agbare premier het die vryheidsmanifes aangehaal: “The people shall share in the country’s wealth.” Indien daar nie verantwoordbare regering intree nie, sal daar binnekort niks wees om te deel nie. Indien omstrede projekte wat geld verkwis en korrupsie wat geld steel nie dringend, daadwerklik hokgeslaan word nie, sal die sogenaamde “wealth” nie meer daar wees nie. Indien bevoegde staatsamptenare nie aangestel word en die nodige werketiek aan die dag gelê word nie, sal geen van die premier se planne realiseer nie – dit sal slegs baie vae drome bly.