Volgens die polisie se misdaadstatistiek het plaasmoorde en –aanvalle in die 2016/2017 boekjaar skerp toegeneem. Plaasmoorde het met 27,5% en plaasaanvalle met 22,9% toegeneem. In die verslagjaar was daar 74 plaasmoorde (58 in 2015/16) en 638 plaasaanvalle (519 in 2015/16).

Nadat die polisie aanvanklik geweier het om misdaadstatistiek oor plaasmoorde en –aanvalle beskikbaar te stel, is die volledige verslag op aandrang van dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, aan hom beskikbaar gestel.

Volgens die statistiek van die polisie was daar sedert 1996/1997 – 2016/2017 nie minder nie as 1700 plaasmoorde en 12 245 plaasaanvalle. Daar is die afgelope drie opeenvolgende jare ʼn toename in plaasaanvalle en sedert 2014/15 ʼn toename van 28,3%.

“Dit is onverstaanbaar dat die polisie nie die verslag wou bekend maak nie en dit skep die indruk dat hulle die skerp toename in plaasmoorde en –aanvalle wou verbloem. Die belang van plaasmoorde is dat landbou ʼn strategiese bedryf is wat voedselsekerheid daarstel.

“Die algemene moordsyfer in Suid-Afrika is nou 34 per 100 000 van die bevolking, maar ten opsigte van boere is dit ongeveer 130 per 100 000. Daarom die klem op plaasmoorde.

“Die Wes-Kaap as provinsie is kwesbaar, aangesien daar volgens die verslag 15 van die 34 polisiekantore, waar die polisie se landelike veiligheidstrategie geensins geïmplementeer is nie, in dié provinsie geleë is.

“Die onlangse toename van plaasmoorde in Wes-Kaap kan hieraan toegeskryf word omdat dié situasie dit maklik maak vir misdadigers om die moorde te pleeg. Daarom die beroep van die Vryheidsfront Plus op die Wes-Kaapse boere om hul veiligheidsmaatreëls op te skerp,” sê dr. Groenewald.