“Die adjunkminister van verdediging en militêre veterane, Kebby Maphatsoe, se verklaring dat ʼn intelligensie-ondersoek na Suid-Afrikaanse militêre kundiges wat buitelandse regerings in oorloë bystaan in ʼn gevorderde fase is, getuig van afguns en rassisme, en die ondersoek is onvanpas. Sy pleidooi dat Suid-Afrika se weermag (SANW) hierdie kundigheid nodig het getuig van skynheiligheid,” sê dr. Pieter Groenewald, die Vryheidsfront Plus se hoofwoordvoerder oor verdediging.

“Die ANC-regering het uit sy pad gegaan om deur transformasie ontslae te raak van militêre kundiges van die ou Suid-Afrikaanse Weermag (SAW). In 2004 is 77 ervare kolonels, waarvan 76 wit is, afgelê en in 2006 is offisiersvormingskursusse by die Leër eksklusief net vir swart, bruin en Indiër-soldate oopgestel. Hierdie stappe, en veral regstellende aksie, het oud-soldate van die SAW wat jare se ondervinding en kundigheid het, gedwing om werk in die buiteland te aanvaar.

“Die feit dat van hierdie oud-soldate nou suksesvol is teen Boko Haram in Nigerië terwyl die SANW en die Nigeriese Weermag sukkel teen terreurgroepe, bewys dat die regering nou die prys betaal vir sy beleid van transformasie. Dit getuig ook van afguns en rassisme teen hierdie oud-soldate. Hierdie oud-soldate moet eerder bedank word vir hulle goeie werk om terreurgroepe bloedneus te slaan,” het Groenewald gesê.