Die minister van finansies, Tito Mboweni, het vandag tydens ʼn gesamentlike vergadering van die staande en gekose komitees oor finansies erken dat hy nie daarvan bewus was dat ramphulp aan kleiner sake-ondernemings op ʼn rassegrondslag ingevolge Swart Ekonomiese Bemagtigings-voorskrifte (SEB) geskied nie.

Hy het onderneem om die aangeleentheid op te neem met die minister van toerisme, me. Mmamoloko Kubayi-Ngubane, in wie se guns die Noord-Gautengse hooggeregshof verlede week in dié verband beslis het.

Die antwoord van minister Mboweni was in antwoord op ʼn vraag van die VF Plus oor waarom maatskappye soos eenmansake wat nie aan SEB-voorskrifte voldoen nie, nie ramphulp van die regering ontvang nie en of die minister kon sê wat die verlies aan belasting-inkomste aan die regering is wat hieruit sal voortspruit.

Die minister het in ʼn verstommende antwoord laat blyk hy is nie bewus van die situasie dat kleiner- en mediumgroot-ondernemings ingevolge SEB-voorskrifte ramphulp ontvang nie.

Die VF Plus vind dit moeilik om te glo dat die minister van finansies in hierdie stadium steeds nie op hoogte is van die situasie nie. Dit is weke lank al ʼn brandpunt wat verlede week in die Noord-Gautengse hooggeregshof op die spits gedryf is met die uitspraak van regter Jody Kollapen dat die toekenning van hulp op grond van ras wel grondwetlik en regmatig is.

Indien een van die belangrikste kabinetsministers – die minister van finansies – in hierdie krisistyd nie bewus was van die voorwaardes van ramphulp nie, ontstaan die vraag wie die besluite hieroor neem en waarom die minister nie deel is van die besluitnemingsproses nie.

Minister Mboweni het in sy antwoord gesê hy het gister gesprek gevoer met die eienaar van die Magoebaskloof-hotel aangesien die omgewing hoofsaaklik op toerisme aangewese is vir ekonomiese oorlewing.

Die eienaar het aan die minister gesê die onderneming se omset is sowat R130 miljoen en dat 95% van sy werknemers swart is.

Die hotel is nou gesluit aangesien daar geen inkomste is nie. Die eienaar is sonder sukses na sy versekeraars en banke en kon ook nie staatshulp kry omdat hy wit is nie.

Volgens minister Mboweni het hy gedink die eienaar van die hotel het dit verkeerd en hy het dit moeilik gevind om te glo totdat dit geblyk het dat dit wel die situasie is. Hy het onderneem om die aangeleentheid op te neem met die minister van toerisme.

Minister Mboweni het aan die VF Plus gesê hy is van mening dat die regering alle ondernemings, wit en swart, moet help om alle Suid-Afrikaners van ʼn werk te verseker en om sodoende ʼn nie-rassige land te bou.

‘Ek kan nie ʼn beleidstandpunt steun wat iemand soos die eienaar van die Magoebaskloof-hotel benadeel net omdat hy wit is nie’, het minister Mboweni gesê.

Die VF Plus sal die saak weer opneem met minister Mboweni om navraag te doen oor sy gesprek met minister Kubayi-Ngubane.