Slegte skuld en dwingelandy loop hand-aan-hand, en al is daar tans ʼn stortvloed negatiewe gebeure wat soos ʼn donker wolk oor Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte en kredietstatus hang, is daar tog lig in die tonnel, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Volgens adv. Alberts kan selfs Marikana in die Suid-Afrikaanse konteks hieraan gekoppel word, en meer Marikana’s is die voorland indien drastiese stappe nie geneem word nie.

Vir die onmiddellike is daar die waarskynlike afwaartse aanpassing van die land se groeikoers na 1,8%, Fitch se afwaartse aanpassing van die land se ekonomiese vooruitsigte van positief na negatief, afgradering staar Transnet in die gesig nadat hy sy klasaksie-saak teen pensioenarisse verloor het, ʼn boikot-aksie teen e-tol kan dieselfde met Sanral laat gebeur en daar heers ʼn wyd algemeen negatiewe gevoel oor ekonomiese vooruitsigte.

Adv. Alberts sê die goeie nuus is dat die sitasie steeds omgekeer kan word indien onmiddellik aan die werk gespring word.

“Daar is eksterne faktore wat ‘n groot rol speel om Suid-Afrika se ekonomiese groei en werkskepping te kniehalter, maar daar is ook verskeie interne faktore wat binne ons beheer lê. Suid-Afrika het die geskiedkundige voordeel om te leer uit ander se foute en die beste beleidstukke vanuit die wêreld te neem met die wete dat dit beproef is en werk. Daardie beleidstukke verg dalk net klein aanpassings vir ons eie omstandighede.

“Armoede en werkloosheid kan vergelyk word met die ebola-virus. Indien die omstandighede reg is, sal dit versprei en wyd kontamineer. Tog, indien mens behoorlike reëls in plek stel en almal gehoorsaam dit, kan die virus se verspreiding gekeer en uiteindelik oorwin word.

“Ons moet hierdie internasionaal beproefde resepte gebruik om die regte omgewing te skep om armoede te bestry. Dit word gevind in die beginsels wat die fondament gelê het vir die industriële rewolusie.

  • Verskans Eiendomsreg. ANC-beleid skep tans groot onsekerheid en verdryf beleggers. Produktiewe eiendom moet nie vernietig word nie en staatsbeheerde eiendom moet eerder aangewend word om minder gegoedes te bemagtig en welvaart oor die totale ekonomiese spektrum te skep;
  • Gaan voort met die Industriële Beleidsaksieplan, maar skep geleenthede en belastingtoegewings vir nuwe- en klein sake-ondernemings in spesiale ekonomiese sones;
  • Skep meer koöperatiewe banke om entrepreneurs te kweek. Privaat-openbare vennootskappe moet aangemoedig word om jong koöperatiewe banke te help. Die huidige trant van ongesekureerde krediet word meestal vir verbruikersbesteding aangewend wat niks anders as skuld-slagysters is nie. Hier is die toekomstige oorsigrol van die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid reeds ʼn goeie remedie;
  • Moedig mentorskap aan om meriete die enigste norm te maak. Bestry nuwe vorme van ekonomiese uitsluiting; en
  • Versterk die demokrasie deur mag na gemeenskappe af te wentel. Bestry nuwe vorme van politieke uitsluiting.

“Hierdie reëls, toegepas sonder vooroordeel en korrupsie, kan Suid-Afrika se situasie omdraai. Maar sonder hierdie basiese reëls kan ons begroot vir ‘n donker toekoms,” sê adv. Alberts.