Die persepsie wat nou geskep word dat die EFF die enigste party is wat bekommerd is oor die Nkandla-vergrype is totaal verkeerd, en Malema se optrede het juis ander partye die geleentheid ontneem om die president tot orde te roep, sê dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.

Volgens dr. Mulder het die EFF gister se vraetyd in die parlement doelbewus misbruik om sy selferkende strategie om revolusie na die parlement te bring, verder te voer. Hy neem deel aan die stelsel om dit van binne te vernietig.

Hy sê tydens die vierde parlement, selfs voor die EFF in die parlement was, was daar reeds ʼn ad hoc-komitee oor Nkandla waarop opposisiepartye presies dieselfde vrae gestel het as wat nou aan die groot klok gehang word net omdat dit op ʼn anargistiese wyse gedoen is.

“Die Speaker het gister ook nie eensydig onregverdig teen Malema opgetree soos nou beweer word nie, en het die EFF bloot gehou by parlementêre reëls rakende vrae in die parlement.

“In terme van die reëls kan vier opvolgvrae gevra word na die president se aanvanklike antwoord. Daardie opvolgvraag moet direk verband hou en voortvloei uit die aanvanklike vraag en antwoord. ʼn Totaal nuwe vraag kan bloot nie op hierdie manier ingeglip word nie, en is dan buite orde, soos gister se geval met Malema.

“Die aanvanklike vraag van Malema aan die president was wanneer hy op die verslae gaan antwoord soos hy onderneem het. Hierdie vraag is opgestel en ingegee voordat die president toe wel geantwoord het op die verslag.

“Die effek daarvan was dat die EFF se vraag irrelevant geword het. Die EFF moes die vraekantoor genader het om hul vraag te wysig om dit relevant te kon hou. Dit is nie gedoen nie. Daarom was die opvolgvraag buite orde en sou die Speaker tegnies die vraag buite orde kon reël.

“Sy het egter steeds die vraag toegelaat en die president toegelaat om daarop te antwoord. Die EFF het egter geweier om die antwoord te aanvaar en chaos het losgebreek,” sê dr. Mulder.

Hy maan ook mense om versigtig te wees en daarteen te waak dat hul afkeur van pres. Zuma, sy gedrag en die ANC se optrede, nie maak dat hulle in die hande speel van Malema en die EFF se revolusionêre agenda om die demokratiese bestel te vernietig nie.

“Dis presies wat nou gebeur. Met die EFF se perskonferensie na die gebeure het Malema die volgende gesê: ‘We are not here for rules. We are here to persue the revolution’.”

Oor die Speaker se optrede tydens die wanordelikheid sê dr. Mulder dit was ʼn fout om die parlement vir die dag te verdaag.

“Dit is onaanvaarbaar en verkeerd dat 25 lede van die parlement om welke rede ook al toegelaat word om die werksaamhede van die instelling stop te sit.

“Die Speaker se aanvanklike verdaging van die raad was korrek, asook haar opdrag dat veiligheidspersoneel die EFF uit die raadsaal moes verwyder. Dit is wat gedoen moes word. Daarna moes die parlement normaal voortgegaan het om die president tot verantwoording te roep in terme van sy geskeduleerde vraag en antwoord sessie aan die parlement. Dit het nou nie gebeur nie

“Die fisieke verwydering van die EFF was noodsaaklik. Wanneer ʼn partye met revolusionêre oogmerke die demokratiese proses misbruik, soos wat duidelik die strategie van die EFF is, het die demokratiese orde geen ander keuse as om maatreëls te tref om die bestel te beskerm nie,” sê dr. Mulder.