Die VF Plus gaan na aanleiding van die Hlaudi Motsoeneng-aangeleentheid ‘n
geskiedkundige klag indien by die kommissie vir maatskappye en
intellektuele-eiendomsreg (CIPC), wat ingevolge die maatskappyereg die mag
het om enige wanadministrasie in ‘n maatskappy te ondersoek.

Volgens adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor
handel en nywerheid, sal die kommissie gevra word om ondersoek in te stel na
moontlike onregmatige optrede deur Faith Muthambi, minister van
kommunikasie, die SAUK se raad, en sy bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng.

“Sover ons weet is dit die eerste keer dat die kommissie ‘n staatsbeheerde
onderneming sal ondersoek. Die kommissie het ook baie meer tande as die
Openbare Beskermer (OB) en is by magte om ‘n nakomingskennisgewing uit te
reik en om op te tree ingevolge die vereistes van die Maatskappyewet.

“Die klag sal verband hou met die bevindinge van die OB wat bevind het dat
die SAUK-raad onreëlmatig opgetree het met die aanstelling van Motsoeneng,
dat Motsoeneng self moontlik bedrog gepleeg het met sy aansoek rakende sy
kwalifikasies en dat hy hoogs onreëlmatig opgetree het in sy pos as
bedryfshoof.

“Ingevolge die Maatskappyewet word ‘n bedryfshoof met Motsoeneng se
bevoegdhede ook geag ‘n direkteur te wees en moet hy voldoen aan die
fidusiêre-, of vertrouensvereistes wat van ‘n direkteur verwag word.

“Aan die hand daarvan moet die kommissie dus oordeel of hy sy verpligting in
die verband nagekom het met die onreëlmatige verhoging van sy eie salaris en
die onreëlmatige afdanking van personeel.

“Indien die minister, die Raad en Motsoeneng nie aan sodanige
nakomingskennisgewing voldoen nie, is dit ‘n misdryf, en kan hulle
strafregtelik vervolg word.

“Die VF Plus wil met hierdie klag ‘n statutêre instansie nader wat werklik
tande het en wat in staat is om die betrokke partye te dwing om uitvoering
te gee aan die Grondwet se vereistes.

“Die VF Plus sal ook vra dat die kommissie enige moontlike strafregtelike
dade sal verwys na die Nasionale Vervolgingsgesag vir ondersoek en
vervolging,” sê adv. Alberts.

Adv. Alberts sê hy het self sitting op die parlementêre portefeuljekomitee
van handel en nywerheid wat oorsig het oor die kommissie, en hy sal toesien
dat die ondersoek deeglik gedoen word en ‘n uitslag oplewer.