Dr. Dirk Herman, bestuurshoof van Solidariteit, het vandag na verwarrende mediaberigte bevestig dat die Grondwethof finaal ten gunste van die SAPD beslis het in die jarelange rassediskriminasiesaak van oud-polisiekolonel Renate Barnard en Solidariteit teen die polisie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se woordvoerder oor arbeid.

Hiermee het die Grondwethof die uitspraak van vyf regters van die Appèlhof in Bloemfontein omgekeer en bevind die SAPD het wel grondwetlik korrek opgetree toe hulle Barnard nie bevorder het nie.

Adv. Alberts sê die saak was van die uiterste belang rakende rassisme en die arbeidsmark en die uitspraak bekragtig die tragiese finaliteit hiervan.

“Dit voorspel niks goed vir rasseverhoudinge in Suid-Afrika nie. Dit sal minderhede amptelik tot minderwaardige landsburgers in hul eie land afrangeer en wys dat die land se hoogste hof geen sonsondergang-klousule vir regstellende aksie in die vooruitsig stel nie.

“Dit wys ook dat die Grondwethof onteenseglik meen daar is meriete in ʼn arbeidsbeleid wat op rassediskriminasie gegrond is.

“Hierdie uitspraak sal minderheidsgroepe se strewe na groter outonomiteit nuwe stukrag gee aangesien dit die enigste manier sal wees om van hierdie soort rassediskriminasie te ontkom.

“Die VF Plus gee nogtans alle eer aan Barnard en Dirk Hermann van Solidariteit wat die stryd onverpoos en met groot ywer namens elke lid van minderheidsgroepe in die land gestry het.

“Die VF Plus onderneem om steeds die parlementêre prosesse te gebruik om te sorg dat rassisme met meriete in die arbeidsomgewing vervang word,” sê adv. Alberts.