President Jacob Zuma moet persoonlik aanspreeklik gehou word vir plaasaanvalle en moorde op wit Suid-Afrikaners, sê mnr. Werner Weber, provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus in Mpumalanga.

Mnr. Weber het gereageer na die moord op mnr. Dirk Ackermann in Ermelo asook die moord op mnr. Friedel Filter (72) van Paulpietersburg. In beide gevalle is hulle van agter in die kop geskiet terwyl hulle geen bedreiging vir hul aanvallers ingehou het nie.

Volgens almal wat mnr. Filter geken het, was hy ‘n uiters vreedsame en mensliewende mens. Niks is in die Filter-plaasaanval gesteel nie.

“President Zuma se aanhoudende rassistiese uitsprake oor wit Suid-Afrikaners skep ‘n klimaat van erge rasse-polarisasie in die land. Dit moet as ‘n sterk bydraende faktor gesien word in die wreedheid van plaasaanvalle en moorde op wit Suid-Afrikaners.

“Wit en swart Suid-Afrikaners wil graag in harmonie met mekaar saamleef, maar die rasse-aanhitsing van president Zuma en die ANC in die aanloop tot die plaaslike owerheidsverkiesing skaad die vreedsame naasbestaan wat wit en swart in Suid-Afrika nastreef,” sê Weber.