Die VF Plus gaan vandag saam met verskeie Wes-Kaapse belangegroepe in gesprek tree met die bestuur van die Elsenburg-Lanboukollege buite Stellenbosch oor die behoud van Afrikaans, en die veiligheid van studente, dosente en werknemers van die kollege.

Dit volg op die gebeure twee weke gelede waar opruiende studente, sommige met EFF-oorpakke en sambokke, op die perseel toegelaat is, en mede-studente aangerand het sonder dat die polisie of die kollege se veiligheidspersoneel tussenbeide getree het.

Die voorval het gespruit uit die aandrang van ʼn kleiner groepie studente wat ontevrede is oor die gebruik van Afrikaans by die kollege.

 

Die gesprek by die kollege sal vandag om 13:30 tot 14:30 gevoer word met mnr. Darryl Jacobs (waarnemende adjunk-direkteur generaal, departement van landbou in die Wes-Kaap) en mnr. Marius Paulse, (hoofdirekteur, Elsenburg-Landboukollege).

Die VF Plus sal vergesel word van mnr. Peter Marais (Beweging van Bruin Belange), mnr. Des Palm (WesKaap Aksieforum) en mnr. Ricardo Sedres (Social Democratic Party SA).

Dr. Mulder sê die bestuur sal gevra word om antwoorde te gee oor die taalkwessie, en watter oplossings voorgestel word om toekomstige onmin te vermy sonder om Afrikaans te benadeel. Die meerderheid studente by die kollege is Afrikaanssprekend.

Die veiligheidskwessie sal ook bespreek word, en die kollege sal ook hier moet uitspel welke planne in plek geplaas is om toekomstige geweld en ontwrigting te vermy.

Na die gesprekke sal die media (omstreeks 15:00) die geleentheid hê om by die nabygeleë Eaglevlei-wynlandgoed onderhoude met dr. Mulder en die anders rolspelers te voer.