Wat sal die VF Plus graag van president Jacob Zuma wil hoor met die staatsrede Donderdag (11 Februarie), wat is die VF Plus se siening rondom die ontwrigting van verrigtinge by die parlement en die rol wat die EFF en Nkandla na verwagting hierin gaan speel?

Op die vooraand van die staatsrede duik dié en ander vrae rondom pres. Zuma se leierskap al hoe meer op. Hier gee dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, sy siening oor dié sake:

Verwagtinge:

“Vir die regering om bloot voort te gaan op sy huidige koers, of ‘bussiness as usual’ gaan Suid-Afrika nie uit die ekonomiese probleme kry wat die land tans ervaar nie. Daarom gaan ʼn herhaling van al die ou ANC-standpunte en -beleidsrigtings wat nou in 2016 net ‘beter’ toegepas gaan word, nie help nie.

“Die president moet bereid wees om aan te kondig dat sekere beleidsrigtings nie werk nie en gewysig gaan word ten einde werkskepping en ekonomiese groei aan te moedig. Dit kan byvoorbeeld wysigings aan arbeidswetgewing wees of maatreëls om buitelandse beleggings makliker, en nie moeiliker nie, te maak.

Slaggate:

“Omdat dit ʼn verkiesingsjaar is, mag die president kies om eerder populêre temas soos rassisme en grond te gebruik in sy toespraak met die oog op stemme in die komende plaaslike verkiesing.

“Hopelik sal hy oor hierdie temas verstandig wees en nie probeer gewild wees met onverantwoordelike uitsprake soos dat grond gesteel is of veralgemenings oor rassisme soos dat dit net van een kant kom nie. Leiers moet hieroor leiding gee en kan so die klimaat van die toekomstige debatte bepaal.”

Ontwrigting:

“Deur die staatsrede te ontwrig, sal vir seker publisiteit besorg aan ʼn betrokke party wat dit doen, maar dit dra nie by tot die algemene beeld van Suid-Afrika nie. Waar so ʼn politieke party binne Suid-Afrika voordeel uit ʼn ontwrigting mag trek, berokken dit ons beeld baie skade in die buiteland.

“In die buiteland vra beleggers na oud-pres. Nelson Mandela se dood of Suid-Afrika besig is om ʼn ‘piesangrepubliek’ te word. Ontwrigting van die parlement versterk daardie persepsie en help nie vertroue in die land opbou nie.”

Nkandla:

“Dit is in belang van Suid-Afrika dat die Nkandla-debakel afgehandel word. Daar is geen twyfel nie dat die president persoonlike voordeel getrek het uit sekere dele van die opknappings by die perseel.

“Nkandla bly sy persoonlike woning (dit behoort nie aan die staat nie) waar hy na sy aftrede gaan woon en die voordele van ʼn swembad, hoenderhok ens. gaan kry. Dat hy nooit daarvoor gevra het nie, is in dispuut, maar dit verander nie aan die feit dat hy persoonlik daaruit voordeel trek nie.

“ʼn Bedrag moet bepaal word wat hy moet terugbetaal. Verder moet die Grondwethof duidelikheid gee oor wat die magte van die Openbare Beskermer (OB) is sodat ʼn president of ʼn minister of wie ook al in die toekoms nie weer die OB se aanbevelings kan ignoreer en ons in ʼn Nkandla-gemors laat beland nie.”

Leierskap:

“Rassisme van swart en van wit kant dra die kiem om Suid-Afrika en alle verhoudinge te vernietig. Daarom moet alle leiers hulle ten sterkste daarteen uitspreek. Leiers bepaal grootliks die trant en styl van sulke openbare debatte.

“Pres. Mandela het dit in die verlede bewys. Ons kort tans sulke leierskap van alle kante. Pres. Zuma en ander leiers het die afgelope tyd die teenoorgestelde gedoen deur alle probleme in Suid-Afrika ‘n rasse-kleur te gee en wittes die skuld te gee.

“Die SONA-rede is ʼn geleentheid vir pres. Zuma om leierskap te wys deur die teendeel te doen en op te hou om die samelewing vir korttermyn-stemwerwing te polariseer,” sê dr. Mulder.