Die rasgegronde kwotas wat die ANC-regering nou op die visbedryf wil afdruk, sal die bruin gemeenskap van die Weskus wesenlik raak en kan dié mense se aandeel in die bedryf effektiewelik uitwis, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Ingevolge voorgestelde nuwe regulasies in terme van die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne sal die nuwe transformasie-doelwitte vir die bedryf neerkom op die nasionale demografie en sal slegs 9% van die regte aan bruines toegeken word.

Adv. Alberts sê hierdie is net nog ʼn voorbeeld van die regering se beheptheid met ras wat mense se lewens ingrypend raak.

“Die nasionale demografie word hier weereens misbruik om bruinmense te benadeel in streke waar hulle die meerderheid vorm.

“Die VF Plus maak ten sterkste beswaar teen hierdie rassistiese kwotas wat effektief die bruin aandeel in vissery sal uitwis. Waar gaan die regering swart vissers vandaan kry? Gaan dit weer baantjies vir swart kaders wees soos dit nou al gewoonte geword het onder ANC-heerskappy?

“Dit is duidelik dat minderhede in die ANC se oë geen regte het nie en daarom moet die ANC met minagting deur alle minderhede in 2016 se munisipale verkiesings verwerp word. Minderhede moet ook werk daarvan maak om swart kiesers in te lig hoe die ANC se disfunksionele beleid van inmenging in die ekonomie almal in Suid-Afrika benadeel.

“Net soos met sportkwotas, waarteen die VF Plus hom ten sterkste uitgespreek het, is hierdie ook ʼn vorm van die ergste diskriminasie teen ʼn groep mense wat ʼn eiesoortige belang in ʼn saak het. Dit kan nie in ʼn normale samelewing geduld kan word nie,” sê adv. Alberts.