Die VF Plus verwelkom die verslag oor plaasmoorde wat die SA Menseregtekommissie (MRK) vandag uitgereik het,” sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor polisie.

Dr. Groenewald sê die verslag verwys ook na die vorige twee verslae oor plaasmoorde en gee ‘n goeie samevatting oor plaasveiligheid in Suid-Afrika.

Volgens dr. Groenewald gee die MRK in die verslag erkenning aan verskeie aspekte van die VF Plus se voorlegging aan die kommissie. Een daarvan is dat aandag gegee moet word aan die afbreek van die persepsie dat net wittes op plase vermoor word.

Hy sê verskeie aanbevelings is gemaak en die verslag sal nou as die van ʼn Hoofstuk 9-instelling by die parlement ingedien word.

“Ek het ook onderneem om te versoek dat die portefeuljekomitee op polisie die aanbevelings in die verslag op dieselfde wyse hanteer as wat met die aanbevelings van die Farlam-kommissie gedoen is waar die komitee dit bespreek het waarna die minister oor die uitvoering daarvan terugvoering daaroor moet gee.

“Dit is belangrik om dit so te doen aangesien dit verskeie aspekte aanraak van stappe wat die polisie moet neem. Een van die belangrikstes is dat ‘n landelike beveiligingsberaad moet plaasvind.

“Die VF Plus het by die 2003-kommissie al skriftelike aanbevelings ingedien oor plaasmoorde soos nou weer gedoen is. Die les wat toe geleer is, is dat dit maklik is om aanbevelings te maak, maar dat dit nie uitgevoer word sonder die politieke wil nie. VF Plus is bekommerd daaroor en sal die proses dophou.

“Alhoewel die MRK opdrag gegee het dat gereeld verslag gedoen moet word oor sy aanbevelings, soos die vordering wat gemaak word met aspekte soos misdaad-analises, is ʼn enkele punt van kritiek dat daar nie uitdruklik vereis word dat die polisie statistiek oor aanvalle en moord op plase bekend moet maak nie,” sê dr. Groenewald.