Dit is ’n hartseer dag as die regering dit nodig ag om vir die eerste keer in twintig jaar die persoonlike belasting met een persentasiepunt te verhoog. Dit beteken dat die regering deur die resessie tydperk en deur ander terugslae daarin geslaag het om met ander metodes die boeke te laat klop, maar nou nie meer daartoe in staat is nie. As die belasting dan moes verhoog, sou die VF Plus verkies het dat BTW met 1% verhoog. So ‘n verhoging sou R18 tot R20 miljard ingebring het wat die regering se tekorte voorlopig kon oplos terwyl alle Suid-Afrikaners ‘n klein bydrae sou maak. Nou word ‘n klein klompie persoonlike belastingbetalers geteiken om die las te dra. As dieselfde koei deurlopend gemelk word, sal die koei opdroog of ophou om werk en inkomste te verskaf.

Die deurlopende hulp aan openbare ondernemings soos Eskom en SAL, sonder planne om hulle meer onafhanklik te kry deur byvoorbeeld privatisering, los nie hulle probleme op nie. Hulle word soos stout spandabelrige kinders wat nooit selfstandig raak nie omdat hulle weet dat die ouers hulle telkens sal red.

Die sentralisering van sekere regeringsaankope soos skoolboeke is ‘n poging om korrupsie te beveg. Enige maatreël om korrupsie te beveg, word verwelkom. Die risiko is egter baie groot dat die staatsdiens nie
die administratiewe kapasiteit het om te verhoed dat so ‘n sentrale aankoopproses uiteindelik ‘n bottelnek word wat nou die hele land in plaas van net een provinsie benadeel nie.

Pogings om met sekere belastingvrystellings meer klein sakeondernemings aan te moedig, word verwelkom. Met al die ander beperkinge soos kragtekorte en regeringsrompslomp steeds daar, sal gekyk word in hoeverre die minister daarin slaag om meer klein sakeondernemings te vestig.

Die minister voorsien dat die staatskuld in 2017 tot R2,3 triljoen gaan styg. Dit is moeilik om die grootte van hierdie bedrag in te sien. In hierdie begroting word R153 miljard begroot net om die rente op
staatskuld vir hierdie jaar te dek. Die toekomstige vrees is dat met ‘n ekonomiese groeikoers van 2% die regering nie in staat gaan wees om Suid-Afrika op die lang termyn uit hierdie skuldput te kry nie.