Adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementslid en partyleier in Gauteng, gaan met die Gautengse polisiekommissaris gesprek voer oor die onlangse vlaag moorde in dié provinsie.

Drie van die moorde waaroor prominent in die media berig is, was in die omgewing van Krugersdorp terwyl ʼn vierde persoon die week by Rayton naby Pretoria vermoor is.

Volgens adv. Alberts gaan hy oor die styging in gewelddadige moorde praat, en in die besonder oor wat moontlik teikenmoorde op versekeringsmaklaars en eiendomsagente kan wees.

Die vermoorde Kevin Mc Alpine (29) en Anthony Scholefield (64) was versekeringsmakelaars en Hanle Lategan ʼn eiendomsagent.

“Die VF Plus sal vra dat ʼn spesiale span speurders aangewys word om enige verband tussen die moorde te ondersoek. Die drie persone is vermoor nadat hulle in dieselfde omgewing en op dieselfde tyd in die aand, om 18:00 afsprake nagekom het.

“Dit kom uiters verdag voor en die vraag moet gevra word of dit blote toeval is. Daar kan nie toegelaat word dat gewone, werkende landsburgers deur vrees gevange gehou word en te bang raak om hul werk te doen nie,” sê adv. Alberts.