Die VF Plus is tans besig om in Genève, Switserland, die wêreld deur die Verenigde Nasies (VN) se Menseregtekommissie-Forum in te lig oor ʼn verskeidenheid probleme wat minderheidsgemeenskappe in Suid-Afrika direk raak, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder is vergesel van mnr. André Fourie, voorsitter van die VF Plus se buitelandse sake-komitee en raadslid vir die Stad Kaapstad.

“Die Menseregtekommissie se tema vanjaar is: ‘Preventing and addressing violence and atrocities targeted against minorities’, en dit sluit daarom perfek aan by die boodskap van die VF Plus oor die lot van minderhede in Suid-Afrika,” sê dr. Mulder.

Die VF Plus het vier voorleggings wat gedoen moet word. Dit behandel plaasaanvalle, die mislukte en skadelike grondeise-proses, regstellende aksie (RA) en die aftakeling van Afrikaans. Die kommissie is reeds toegespreek oor plaasaanvalle. Die inleiding van die voorlegging lui as
volg:

“Ons versoek is dat hierdie Forum oor minderheidsaangeleenthede met erns kennis moet neem van die kommerwekkende toename in die gewelddadige moorde van boere en plaaswerkers in Suid-Afrika sedert 1994.

“Ons versoek u om te help met die voorkoming en behandeling van hierdie geweld en wandade wat gemik is teen ʼn strategiese minderheidsgroep in die gemeenskap wat nie net verantwoordelik is vir die voedselsekerheid van die land nie, maar aansienlik bydra tot werkskepping, ekonomiese groei en die welvaart van almal in Suid-Afrika.”

Die voorlegging noem dat, waar vergelykende syfers rakende moord wêreldwyd dui op 7 moorde per 100 000 mense (van ʼn bevolking), ʼn skrikwekkende 132,8 boere per 100 000 jaarliks in Suid-Afrika vermoor word. Ook dat 1 651 boere van 1990 tot 2013 vermoor is.

Dr. Mulder gaan ook op 27 en 28 November in Genève die dagbestuur (Presidensie-bestuur) van die Unrepresented Nations and Peoples Organization (UNPO) bywoon en hulle op hoogte bring met verwikkelinge in Suid-Afrika.

Hy gaan ook die presidensie van UNPO ontmoet ter voorbereiding van UNPO se algemene raad in Mei 2015 in Brussel ten einde wisselwerking te verseker met die Europese Unie-parlement.