Die VF Plus het die voorsiter van die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid in ʼn skrywe versoek om dringend in te gryp in ʼn poging om die staalvervaardiger Highveld Steel van ondergang te red,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Adv. Alberts sê alhoewel dit in hierdie stadium blyk dat die maatskappy nie meer gered kan word nie, rus daar wel ʼn verpligting op die staat om ingevolge ʼn onderneming van die Industriële Ontwikkelingskorporasie (IOK) die land se nywerheidskapasiteit te bewaar.

Dit, tesame met president Jacob Zuma se verbintenis in sy staatsrede verlede week om werkgeleenthede te skep en bewaar, maak dit van die grootste belang om ʼn reddingsboei na Highveld Steel uit te gooi, sê adv. Alberts.

In sy brief aan me. JL Fubbs, voorsiter van die portefeuljekomitee, sê adv. Alberts onder meer:

“Die sluiting van Highveld Steel is vir my verontrustend. Talle mense is afgelê, en baie van hulle is tans onder geweldige geldelike druk.

“Een van die redes wat tot hierdie situasie gelei het, is die versuim van die IOK om nie toegewysde fondse aan Highveld Steel beskikbaar te stel soos hy ingevolge ʼn onderneming moes doen nie.

“Dit is uiters kommerwekkend gegewe die menselyding en waarde wat met die sluiting verlore sal gaan.  Die VF Plus versoek u daarom om met die IOK te skakel om hulle opdrag te gee om te verduidelik waarom die nodige fondse nie beskikbaar gestel is nie.

“Die komitee kan terselfdertyd met die IOK en die departement van handel en nywerheid gesprek voer om vas te stel wat anders gedoen kan word om tot Highveld Steel en sy werknemers se redding te kom.”