Die VF Plus het vandag ʼn klag van diefstal by die polisie op Mosselbaai ingedien nadat die party se plakkate wat kiesers aansê om te registreer, verwyder is kort nadat dit enkele dae gelede opgesit is, sê dr. Corné Mulder, leier van die VF Plus in die Wes-Kaap.

Generaal Niel van Heerden, die VF Plus se streekkoördineerder vir die Eden-distrik in die Suid-Kaap, het die klag ingedien.

Volgens dr. Mulder dui inligting in die VF Plus se besit daarop dat die plakkate in opdrag van die munisipaliteit van Mosselbaai verwyder is.

Die munisipaliteit het intussen ʼn beleidsdokument aan die VF Plus gestuur wat daarop dui dat die dorp geen registrasie-plakkate toelaat nie, maar het nog nie bevestig dat hy wel die plakkate verwyder het nie.

Soortgelyke plakkate van die DA word egter op die dorp toegelaat bloot omdat ʼn klein plakker daarop aangebring is wat kennis gee van ʼn vergadering.

Dr. Mulder sê die optrede van die betrokke munisipale amptenaar op die dorp is betreurenswaardig aangesien geen ander dorp in Suid-Afrika die beperking het nie, en dit boonop van groot belang vir gesonde demokratiese prosesse is dat politieke partye die publiek bewus maak van die registrasiedatum.

“Die VF Plus beskou hierdie aangeleentheid in ʼn baie ernstige lig, en dit is waarom ons ʼn klag by die polisie hieroor indien. Indien dit sou blyk dat dit wel in opdrag van die munisipaliteit was, sal die VF Plus daarop aandring dat dit onmiddellik op die munisipaliteit se koste weer teruggeplaas word, of dat alle partye se plakkate verwyder word.

“Dit sou uiters verdag wees indien dié DA-beheerde munisipaliteit wel agter die optrede sit, aangesien dit op onbehoorlike bevoordeling van die DA sou dui,” sê dr. Mulder.