Volgens die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat (OPOD) het die aantal klagtes van verkragtings wat deur polisielede gepleeg is in ses maande (April – September 2014 teenoor dieselfde tydperk in 2013) met 25% toegeneem en verkragtings van persone in aanhouding het met 160% toegeneem. Die OPOD het hierdie statistiek bekend gemaak in ’n voorlegging aan die portefeuljekomitee oor polisie in die parlement.

“Wat meer kommerwekkend is, is dat die aantal verkragtings deur polisielede wat op diens is, met 56% toegeneem het. In die geval van mense in polisieaanhouding wat verkrag is deur polisielede wat op diens is, was die toename 350%. Dit beteken dat hierdie verkragters dink hulle is verhewe bo die reg bloot omdat hulle polisielede is en misbruik hulle gesag wat aan hulle toegeken is op grond van hulle amp. Dit is dan ook te verstane dat die publiek vertroue in die polisie verloor en hulle wantrou,” sê dr. Pieter Groenewald (LP), hoofwoordvoerder van polisie vir die Vryheidsfront Plus.

In dieselfde ses maande tydperk is 127 klagtes ontvang vir sterftes in polisieaanhouding en 186 klagtes vir sterftes as gevolg van polisieoptrede, ’n totaal van 313 sterftes.

“Wat verder ontstel is dat van die 475 aanbevelings deur die OPOD van optrede teen polisielede, slegs 33 sake afgehandel is. Dit beteken dat die polisie slegs 6,9% sake afgehandel het en skep die indruk dat die polisiediens traag is om op te tree teen sy eie lede. Die OPOD is die instelling waardeur die algemene publiek kan klagtes lê teen ongemagtigde optredes van polisielede, maar indien slegs 6,9% sake afgehandel is, beteken dit dat die publiek se klagtes geïgnoreer word en maak die publiek kwesbaar teen polisie-brutaliteit.

“Die minister van polisie, Nkosinathi Nhleko, sal daadwerklik moet ingryp en polisielede wat hulle skuldig maak aan wandade ontslaan uit die polisiediens. Dit is onregverdig teenoor die toegewyde polisielede om hierdie vrot appels te behou en die reputasie van die ander daardeur aantas,” het Groenewald gesê.