Die Unrepresented Nations and Peoples Organization (UNPO) het oor die naweek met sy twaalfde algemene kongres in Brussel, België, resolusies van die VF Plus oor plaasmoord en Afrikaans aanvaar, en moet nou ingevolge sy mandaat optree om die belange van een van sy lede – in hierdie geval die Afrikaner – te beskerm.

Dit beteken dat daar nou op die hoogste internasionale vlak druk op die Suid-Afrikaanse regering uitgeoefen gaan word om antwoorde te verskaf en op te tree teen plaasmoord en die aanslag op Afrikaans as moedertaal-onderrigmedium.

Dr. Pieter Groenewald, voorsitter van die VF Plus, het die resolusie oor plaasmoord voorgehou en het die kongres toegespreek oor gewelddadige aanvalle en moorde wat die landbougemeenskap as strategiese minderheid teiken.

Ingevolge die aanvaarde resolusie, gaan UNPO nou ʼn beroep doen op die Suid-Afrikaanse menseregtekommissie (MRK) om sy ondersoekverslag oor plaasaanvalle uit te reik, en die Verenigde Nasies (VN) se menseregte-kommissaris gaan gevra word om die aangeleentheid te ondersoek.

UNPO het ook onderneem om Suid-Afrika se regering te versoek om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad te verklaar.

Die VF Plus se nasionale jeugleier, mnr. Wouter Wessels, het die resolusie oor moedertaalonderrig aan die kongres voorgehou.

In hierdie geval het UNPO onderneem om ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse regering te doen om gelyke onderwys-geleenthede aan almal in hul moedertaal te gee, en om die stelselmatige diskriminasie teen Afrikaans stop te sit.

  • ʼn Groot eer het die VF Plus tydens die kongres te beurt geval deurdat dr. Groenewald as voorsitter van UNPO se verkiesingskommissie aangewys is met die verkiesing van die organisasie se president, vise-president en dagbestuur, en dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, is herkies tot die dagbestuur van UNPO.
  • Mnr. Nasser Boladai van Wes-Balochistan (Pakistan) is as die nuwe president van UNPO, en mnr. Abdirahman Mahdi van Ogaden (Ethiopië) as vise-president verkies.