Die toenemende probleme in openbare skole in Suid-Afrika het tot gevolg dat die tuisonderrigstelsel al hoe gewilder raak as alternatief, sê Amanda de Lange, nasionale voorsitter van die Vryheidsfront Plus se federale vrouekomitee.

De lange sê die aansoek van Hans Pietersen en sy organisasie om godsdiens uit skole te verwyder omdat dit volgens hulle kinders se ‘regte’ skend, het baie Christene in Suid Afrika omgekrap.

“Alhoewel Pietersen beweer dit is nie ʼn heksejag op Christenskap nie, sê hy ook nie watter morele waardestelsel gebruik moet word om godsdiens te vervang nie.

“Die afwatering van Christelike waardes en norme en die gepaardgaande toename in geweld en swak dissipline in skole kan daartoe lei dat tuisonderrig ʼn al hoe aantrekliker opsie word,” sê De Lange.

Volgens haar bied uitstekende tuisonderrigstelsels wat in Suid Afrika beskikbaar is, wel ʼn goeie alternatief vir die huidige onderwysstelsel.

“Ouers moet egter eers behoorlike navorsing doen om seker te maak dat die stelsel van hul keuse wel by die Suid-Afrikaanse onderwysdepartement geakkrediteer is voordat hulle registrasie- en klasgelde betaal aan instansies.

“Daar word ook moeite gedoen om seker te maak dat die geakkrediteerde stelsels op internasionale onderrigvlakke mededingend is en die kwalifikasies internasionaal erken word.

“Volgens die Vryheidsfront Plus is die Christelike boublokke van kinders in skole van die uiterste belang vir hul sosiale en maatskaplike vorming.

“Daar is reeds heelwat versoeke aan die ANC-regering gerig om stappe te neem teen die morele en sosiale verval in Suid-Afrika. Om toe te laat dat die morele pilare van ons gemeenskappe verder afgetakel word, soos met die hofaansoek van Pietersen, sal onverantwoordelik wees,” sê De Lange.