Die ANC-regering se mislukte ekonomiese beleid wat op ʼn kwalik bedekte en rigiede Marxistiese ideologie gegrond is, het Suid-Afrika nou byna weerloos gelaat teen die internasionale ekonomiese krisis wat die land soos ʼn byna perfekte storm bedreig, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Hy sê die ANC erken nou self in dokumentasie vir sy nasionale algemene raad dat sy beleid om armoede uit te wis misluk het en dat gekyk moet word na moontlikhede om die privaatsektor se beleggings te verhoog.

Volgens adv. Alberts is dit ʼn stap in die regte rigting en staan dit in skrille kontras met die ANC se beleid en gedrag tot dusver. Hy sê dit raak duidelik dat harde feite nou swaar begin weeg teen ideologiese retoriek. Wat die feite al hoe harder sê in teenstelling met ANC-ideologie is:

    • Feite sê: Gee die ekonomie ruimte om in te groei. Ideologie sê: Die slaafse navolging van die Vryheidsmanifes en desperate pogings om gelykheid te skep is belangriker as groei en sal bloot lei tot eindelike gelykheid in armoede;
    • Feite sê: Beplanning is nodig om die land van krag te voorsien. Ideologie sê: Daar is nie ʼn kragkrisis nie;
    • Feite sê: BBSEB skep net welvaart vir ʼn paar swartes en is uiters nadelig vir die ekonomie. Ideologie sê: Dit werk, al is daar geen ondersteunende bewyse nie;
    • Feite sê: Regstellende Aksie verdeel swartes en minderhede. Ideologie sê: Net swartes verdien regstelling gegrond op die nasionale demografie aangesien hulle die meeste gely het;
    • Feite sê: Die beskerming van eiendomsreg is die hoeksteen van ʼn moderne ekonomie. Ideologie sê: Herverdeel ongeag die gevolge op die ekonomie en voedselsekerheid;
    • Feite sê: Goeie onderwys is ʼn voorvereiste vir ʼn groeiende ekonomie. Ideologie sê: Swak standaarde net om matrieksertifikate te kan uitdeel is belangriker as die ekonomie.

“Hierdie kontras tussen die werklikheid en ideologie sal opgelos moet word as die ANC enige ekonomiese sukses wil smaak.

“Dit is duidelik dat die ANC nie wil verstaan dat enige ekonomie ʼn komplekse stelsel is nie. Meng jy in op ʼn fundamentele wyse, kry jy onbedoelde gevolge wat skade veroorsaak. Vra maar die Sowjet-Unie wat na 70 jaar se sentrale beplanning in duie gestort het weens die inherente teenstrydighede in die stelsel,” sê adv. Alberts.