Met mediese fondse en privaathospitale wat tans onder die soeklig is weens die astronomiese kostes van hul dienste, is die vloei van pasiënte na staatshospitale besig om ingrypend toe te neem, sê me. Amanda de Lange, nasionale voorsitter van die Vryheidsfront Plus se vrouekomitee.

De Lange sê die komitee is besig om staatshospitale in al die provinsies te besoek, en in die besonder kraamsale en baba-afdelings aangesien omstandighede in veral dié twee afdelings veel te wense oorlaat.

Sy sê in baie gevalle is die hoeveelheid verpleegpersoneel totaal ontoereikend en die tekort aan toerusting en beddens vir pasiënte veroorsaak dat swanger vroue wat reeds in kraam is, op harde ongemaklike bankies in die gange en sale moet sit en wag om gehelp te word.

“Met ʼn besoek aan ʼn hospitaal in Gauteng het van die vroue gehuil van pyn en ongemak, maar wou nie op die koue harde vloer gaan lê nie. Dit is onmenslik en baie hartseer om te aanskou,” sê De Lange.

Volgens haar is privaat mediese sorg in Suid Afrika net beskore vir vermoënde mense. Selfs mense in die middelklas begin noustrop trek en met die stygende kostes vir mediese fondse met minder voordele, wend mense hul toenemend na staatsinstansies.

“Die instansies is nie voorbereid op die skielike toestroming nie en die meeste staatshospitale en klinieke sukkel reeds met hul huidige werklas.

“Die situasie in die baba-sale is veral kommerwekkend. Weens ʼn tekort aan personeel en behoorlike sterilisasie-toerusting, word pasgebore babas met bekertjies gevoed aangesien personeel nie die tyd of toerusting het om bottels te steriliseer nie.

“Ouers word nie toegelaat om hul babas se eie bottels hospitaal toe te neem nie weens die risiko van kruisbesmetting in die sale.

“Baie van die probleme kon voorkom gewees het deur beter beplanning en bestuur op regeringsvlak. In skrille teenstelling hiermee is dit opvallend dat byna al die hospitale se bestuurskantore pragtig en luuks oorgedoen is,” sê De Lange.