Onheilspellende selfoonboodskappe waarin stakende poskantoorwerkers aan Marikana herinner word en aangesê word om hulself te bewapen met ‘pangas en alle soorte wapens’ hang tans soos ʼn donker wolk oor die SA Poskantoor (Sapo)–staking en onderhandelinge, sê adv . Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie.

Hy sê die VF Plus is ook in besit van dokumente waarin Sapo erken hy is in ʼn desperate (dire) finansiële posisie wat skikkingsopsies bemoeilik. Om die probleem te vererger is vakbonde in ʼn magstryd gewikkel wat daartoe lei dat moontlike skikkingsteikens telkens aangepas word.

Die vakbonde eis dat alle nie-permanente werkers onmiddellik permanent aangestel word, asook ʼn salarisverhoging van 15% aan alle werkers.

Luidens inligting in die VF Plus se besit het Sapo ʼn voorstel van ʼn 8%-verhoging met ʼn personeelvermindering van 20% op die tafel geplaas. Dit is nie aanvaar nie en in ʼn stadium is byna geskik op ʼn verhoging van 6% en ʼn infasering van nie-permanente werkers oor ʼn periode van 4
jaar.

Hierdie voorstel is egter deur die Communication Workers Union (CWU) afgekeur. Die CWU dring steeds aan op ʼn 15%-verhoging en die onmiddellike vaste aanstelling van alle werkers.

In ʼn skrywe van Sapo aan CWU word onder meer gesê (uit Engels vertaal): Sapo se bestuur doen hierdie voorstelle met deeglike inagneming van sy haglike finansiële posisie waaroor oop kaarte gespeel is met die vakbond-leierskap…’

Dit blyk ook dat Sapo oorweeg om ʼn ‘aansporingsbonus’ van tussen R1 000 en R1 500 aan die stakers te betaal om die ‘gemoedere te kalmeer’ sodat onderhandelinge kan vlot. Die moontlikheid word geneem dat dit oor ʼn tydperk van drie maande betaal kan word.

Die VF Plus verneem dat daar onder permanente werkers groot ongelukkigheid hieroor is. Aangesien die nie-permanente werkers op ʼn grondslag van geen werk-geen betaling aangestel is, word op hierdie manier ʼn presedent geskep en dit word gesien as ‘betaling om te staak’, sê adv. Alberts.

“Die VF Plus doen weer ʼn beroep op die regering om kragdadig by hierdie staking in te gryp en die partye tot bemiddeling te roep. Al beteken dit daar vir eens op die tone van vakbonde getrap moet word,” sê adv. Alberts.