Suid-Afrika se handelsvennote in Amerika en die Europese Unie het vandag vir die eerste keer reguit en ondiplomaties aan die ANC-regering gesê beleggingsvertroue in die land is ‘op sy laagste ooit’ en dat die ‘eerste’ voorval van onteiening die einde van beleggings in Suid-Afrika sal beteken, en dat dit ‘reeds besig is om te gebeur..’.

Ook dat Suid-Afrika ten spyte van reuse beleggings in die land, openlik vyandiggesind teenoor die ‘weste’ staan ten koste van sy Brics-vennote.

Die harde woorde het vandag geval met die openbare verhoor by die parlementêre portefeuljekomitee vir handel en nywerheid oor die Wetsontwerp oor die Bevordering en Beskerming van Beleggers.

Uit die voorleggings van die Amerikaanse Nywerheidskamer (NPC)- en die Europese Kamer van Handel en Nywerheid in Suid-Afrika (EUCCISA), word dit duidelik gestel dat die groot onsekerheid rondom Suid-Afrika se ekonomiese beleid die hoofrede vir die wantroue is.

Die NPC het Suid-Afrika se minister van handel en nywerheid, Rob Davies, by name betrek en gesê nieteenstaande Davies se beloftes dat buitelandse beleggings in Suid-Afrika beskerm sal word, blyk dit of die wet die teenoorgestelde ten doel het.

Die NPC sê onder meer dat buitelandse beleggings duidelik nie veilig is nie, dat beleggers geen ‘billike’ vergoeding kan verwag vir hul beleggings in geval van ʼn dispuut nie, dat daar ‘geen teken is’ van die internasionale beginsel van gelykheid en billikheid nie en dat daar geen teken is van die bevordering en beskerming van beleggers soos die wet ironies genoeg genoem word nie.

Volgens die NPC staan beleggers met ʼn bedrag van R1.35 triljoen rand gereed om in die land te belê, maar hulle is nie bereid om dit te doen solank daar beleid-onsekerheid bestaan nie.

EUCCISA het in sy voorlegging gesê benewens beleid-onsekerheid het verskeie faktore reeds daartoe gelei dat beleggers hul beleggings ‘aangepas’ het, terwyl ander ‘n ‘wag-en’sien-houding’ ingeneem het.

“Ander weer kyk na geleenthede in buurlande en verder in Afrika, of om hul beleggings totaal aan Afrika te onttrek,” lui die verslag.

Adv. Alberts sê Suid-Afrika se Amerikaanse en Europese handelsvennote het dit vandag hard en duidelik aan die ANC gestel: Verander jul beleid of ons loop. Nie net uit Suid-Afrika nie, maar sommer uit Afrika in sy geheel.

“Dit is duidelik dat die wet en beleid beleggings vernietig en dat die ANC nie meer vertrou word nie. Amerika rig ook ʼn waarskuwing dat Suid-Afrika nie net op beleggings vanuit die Ooste kan staatmaak nie, en dat alle beleggers dieselfde behandel moet word.

“Die VF Plus gaan met belanghebbendes van die groepe praat, en sal toesien dat hul behoeftes in die betrokke portefeuljekomitee ingedra word om te sorg dat daar brood op Suid-Afrikaners se tafels sal bly en dat die land se ekonomie nie totaal vernietig word nie,” sê adv. Alberts.