Indien die Suid-Afrikaanse regering nie by nog ʼn internasionale skandaal ingesleep wil word nie, moet hy onmiddellik oop kaarte speel oor die ware redes waarom ʼn groep Suid-Afrikaners in China in hegtenis geneem is en aangehou word, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor polisie en staatsveiligheid.

Terwyl die regering ʼn sluier oor die aangeleentheid trek en adjunkpresident Cyril Ramaphosa nou ontken dat hy dit self op die hoogste vlak in China hanteer, is die VF Plus se inligting dat van die mense in die groep weens vermoedelike spioenasie in hegtenis geneem is.

Die VF Plus se inligting is dat gevorderde tegnologiese toerusting wat in spioenasie gebruik kan word, by van die mense in die toergroep gevind is en wat op data in rekenaars en bedieners kan spioeneer. Niemand is glo tot op hede formeel aangekla nie.

Dr. Groenewald sê die situasie is uiters ernstig aangesien die doodstraf vir spioenasie in China opgelê kan word.

“Die feit dat die Chinese owerheid nie volgens diplomatieke protokol die SA-regering in kennis van die arrestasies gestel het nie, wek verder kommer. Aanvanklik het buitelandse sake gesê dat adjunkpresident Cyril Ramaphosa die saak op hoogste vlak bespreek in China, en nou word dit ontken. Dit skep ook verwarring.

“Suid-Afrika steier nog onder die Fifa-sokkerskandaal wat steeds deur die FBI ondersoek word, en die Omar al-Bashir-debakel. Nou hierdie. Ons is vinnig besig om aansien in die oë van die wêreld te verloor.

“In hierdie geval is die betrokke land China, ʼn senior Brics-handelsvennoot en inderdaad jare reeds Suid-Afrika se grootste handelsvennoot.

“Die ANC-regering sal weldra besef dit is nie so maklik is om internasionale skandale so maklik soos ʼn Nkandla dood te swyg en te ignoreer nie. Dit is in openbare belang dat hulle so gou doenlik met die waarheid oor hierdie aangeleentheid vorendag kom,” sê dr. Groenewald.