Die moord op ʼn negejarige dogtertjie, Kayla McCormak en drie ander mense op ʼn kleinhoewe buite Randfontein, laat opnuut die soeklig val op die hoë voorkoms van moord en die wreedheid daarvan in Suid-Afrika, en die regering sal nou daadwerklik moet optree, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor polisie.

Dr. Groenewald het vandag in ʼn ledeverklaring in die parlement gesê amptelike statistiek wys daar word 32 mense per 100 000 van die bevolking vermoor. Dit is byna vyf keer meer as die wêreldgemiddeld. Wat plaasmoorde aanbetref, is die syfer 133 per 100 000.

Hy sê navorsing en syfers van die SA Mediese Navorsingsraad en ander instellings dui daarop dat die syfer selfs hoër kan wees.

“Nog ʼn kenmerk van die moorde in Suid-Afrika is die buitensporige geweld waarmee dit gepaard gaan. Dit is ongekend en onaanvaarvaar.

“As ʼn mens kyk na die onlangse moord van ʼn gesin op ʼn kleinhoewe buite Randfontein, wat per definisie plaasmoorde is, duik die vraag noodwendig op hoe dit moontlik is dat ʼn negejarige dogtertjie met ʼn graaf doodgeslaan kan word sonder dat daar eintlik iets geroof word.

“Die regering het ʼn vorige ondersoek geloods na hierdie wreedheid wat met die moorde gepaard gaan, maar daar het niks van gekom nie.

“Die waarnemende kommissaris van polisie sê nou plaasmoorde is ʼn prioriteit. Die VF Plus doen daarom ʼn beroep op die polisie en die regering om daadwerklik en met erns ondersoek te doen na plaasmoorde en alle moorde in Suid-Afrika en in besonder die wreedheid waarmee dit gepaard gaan.

“Dié moordrekord strek Suid-Afrika nie tot voordeel nie,” sê dr. Groenewald.