Die regering kan nie eensydig en na willekeur die naam van die Anglo-Boereoorlog na die Suid-Afrikaanse oorlog verander nie. Navorsers, geskiedskrywers en historici bepaal so ʼn naam wat dan deur gebruik gevestig word. Die laaste paar dekades het die naam Anglo-Boereoorlog gevestig geraak en gaan ʼn eensydige regeringsbesluit dit nie so maklik verander nie.

Die vraag is of dit ʼn regering se taak is om die geskiedenis en erkende name op hierdie wyse te probeer verander? As die raad van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein besluit om hulle naam na die Suid-Afrikaanse Oorlogmuseum te verander, is dit sekerlik binne hulle magte. Dit beteken nie dat die oorlog nou ook outomaties ʼn nuwe naam het nie.

Nêrens is met historici of in die parlementere portefeuljekomitee of deur openbare deelname gekonsulteer oor so ʼn naamsverandering nie. By die verandering van dorpsname is daar streng voorwaardes van hoe en met wie almal gekonsulteer moet word.

In die tydperk 1899 tot 1902 waartydens die oorlog plaasgevind het, het Suid-Afrika nog nie bestaan nie. Suid-Afrika is ʼn begrip wat eers na uniewording in 1910 ontstaan het. Dit maak dit problematies om na die
oorlog as die Suid-Afrikaanse oorlog te verwys. Die oorlog was tussen die regerings van die Zuid-Afrikaanse Republiek, die Republiek van die Oranje Vrystaat en Brittanje. Die destydse Natal- en Kaapkolonie het nie oorlog teen enige iemand verklaar nie hoewel die oorlog natuurlik op hulle inwoners ʼn impak gehad het.

Hiermee word ook nie vir ʼn oomblik die rol van swartes in die oorlog ontken nie. Navorsing bevestig dat daar tot 65 swart konsentrasie kampe en 49 wit kampe was met swart mense aan Britse en Boere kant. Daarom word die boek wat deur die museum bekendgestel is “Black Participation and Suffering in the South African War 1899-1902 – An Untold History” verwelkom. Dit plaas die groot aantal sterftes en ernstige lyding van swart mense tydens die oorlog in perspektief.

Die oorlog het oor die jare talle name gehad. My ouma Maria Mulder, wat in Britse konsentrasiekampe swaar gely het, het die oorlog die “Engelse oorlog” of “Tweede Vryheidsoorlog” genoem omdat sy baie sterk gevoel het dat die Britte die oorlog veroorsaak het. Sy het heftig beswaar gemaak as dit die “Boere-oorlog” genoem is. Die naam “Anglo-Boereoorlog” het internasionaal en in Suid-Afrika die laaste eeu gevestig geraak.