Die Vryheidsfront Plus se nasionale vrouekomitee is sterk gekant teen president Jacob Zuma se seksistiese uitsprake wat hy Saterdag in Nkandla teenoor vroue in Suid-Afrika gemaak het, sê Amanda de Lange, nasionale voorsitter van die VF Plus se vrouekomitee.

De Lange sê terwyl geweldsmisdaad teen vroue in Suid-Afrika hoogty vier en daar deurlopend bewusmakingsveldtogte gevoer word, berig Rapport (6 Maart 2016) op bl. 2 dat pres. Zuma Saterdag aan joernaliste gesê het moderne vroue kla te vinnig dat hulle geteister word.

Sy sê met ʼn verlede soos dié van die president, asook die feit dat hy die hoogste gesag in die land verteenwoordig, is die uitlating skokkend en verwerplik. Luidens die berig het Zuma gesê: “Moderne vroue is te vinnig om te sê hulle word geteister wanneer hulle op ‘n onskuldige wyse gekomplimenteer word”.

Volgens de Lange is dié opmerking ‘n belediging vir alle vroue in Suid-Afrika en die president skep die indruk dat vroue onwelkome aandag van mans eerder moet verwelkom. Hy beweer verder dat vroue goeie mans kan “misloop” en nie ʼn huweliksmaat sal kry as hulle mans van teistering beskuldig wanneer hulle vroue eintlik komplimenteer nie.

“Vir president Zuma om te sê; ‘dit is jammer ons leef in ‘n witman se wêreld – jy kan steeds trou al het jy nie genoeg geld om vir lobola te betaal nie’ is rassisties en neerhalend teenoor ‘n groot deel van die gemeenskap wat sy eie kultuur het en nie dié van die president deel nie.

“Daar mag miskien vroue wees vir wie die uitlatings aanvaarbaar is, maar moderne Suid-Afrikaanse vroue eis ‘n openbare verskoning van president Zuma. Sy seksistiese en neerhalende houding teenoor vroue dra ‘n boodskap van ongeërgdheid en kan misdaad teen vroue aanvaarbaar laat lyk.

“Teenoor die seksistiese kultuur wat klaarblyklik vir die president aanvaarbaar is, is daar ook ʼn ander kultuur van manlike respek vir ʼn vrou waar komplimente eerlik en opreg bedoel word en waar mans nie vir vroue hoef te betaal nie. Een waar huwelike ʼn wedersydse besluit tussen man en vrou is. Dit is dalk wys vir die president om te onthou dat dit belastinggeld is wat na al sy vroue se behoeftes omsien,” sê De Lange.