Die VF Plus gaan dringend ʼn gesprek met die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) voer om duidelikheid te kry oor die groot verwarrings wat die afgelope registrasienaweek met kieserslyste voorgekom het, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Volgens dr. Mulder het die VF Plus verskeie navrae in die verband ontvang, en dit blyk dat die probleem drieledig is: Persone se name het van die kieserslyste verdwyn, adresse is verkeerd of het verdwyn.

Dr. Mulder sê die probleme is uiters kommerwekkend aangesien Suid-Afrika minder as vier maande weg is van die verkiesing.

“Die antwoorde wat ʼn woordvoerder van die OVK vanoggend oor die radiostasie RSG aangebied het oor die verwarring, is onaanvaarbaar. Daar moet vasgestel word presies wat die probleem is, wat die omvang daarvan is, en dit moet so gou doenlik reggestel word,” sê dr. Mulder.

Dr. Mulder wys ook daarop dat die registrasieproses eers finaal sluit met die proklamasie van die verkiesingsdatum in die Staatskoerant.

Enige persoon kan daarom steeds na die OVK-kantoor in sy munisipale gebied gaan om navrae oor sy of haar status as kieser te rig of nog te registreer, sê dr. Mulder.

Kiesers kan ook vasstel wat hul status is deur ʼn sms met hul identiteitsnommer te stuur na 3419. Sms’e kos R2. U kan ook die VF Plus se webblad besoek by www.vfplus.org.za . Kliek dan op die skakel “Is ek geregistreer”. Die VF Plus bied ook ʼn diensnommer aan waar u die inligting kan bekom. Die nommer is 0861-700-700.