Terwyl Suid-Afrika aan die vooraand van die winter deur herhaalde kennisgewings oor kragbesparing kennis neem van die moontlikheid van verdere beurtkrag, besef min mense hoe groot die waterkrisis is en hoe naby die land aan ‘beurtwater’ is, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor water en sanitasie.

Adv. Alberts het vandag met die departement van water en sanitasie se begrotingsrede gesê wat wel bekend is, is die besoedeling van riviere en damme, die swak onderhoud van waterstelsels, die styging van swaar metale in die watervoorraad, die vernietiging van riviere, vleie en die omringende ekostelsels waar swaar industrieë, en veral myne, bedryf word, en die minagtende houding wat vele stadsrade het as dit by waterbestuur kom.

Hy sê die mees ontstellende van hierdie naderende krisis is die planne wat die ANC-regering daaromheen gedoen het. Benewens die feit dat die regering geensins voorsiening gemaak het vir die sikliese droogtes van sowat elke dertig jaar nie, spruit die huidige dreigende krisis wat rampspoedige afmetings kan aanneem, uit die ANC se swak toekomsbeplanning.

“Die land moet hom ook staal vir die ANC se halsstarrige planne om voort te gaan met kernkrag-ontwikkeling wat miljoene liter water gaan opslurp.

“Hierdie onsinnige beplanning kom egter in ʼn dubbele pakket. Komplimentêr by die kernkrag vorder die ANC se planne met hidrouliesebreking ook goed. Dit sal verseker dat al die Karoo se waterare, asook die lug in die omgewing van die breking, besoedel word. As die water jou nie siek maak nie, sal die lug dit waarskynlik doen. Als te danke aan ANC-beplanning.

“Die ANC-regering het vir 21 jaar min, indien enige aandag geskenk aan die onderhoud van waterinfrastruktuur in die land. Net soos met Eskom wat gedink het planne vir die toekoms is nie nodig nie, so het die talle munisipaliteite, provinsiale regerings en die ANC-regering op nasionale vlak gedink feetjies gaan die waterstelsel in stand hou.

“As van die ouer en meer ervare amptenare advies wou gee, is hulle afgemaak as rassiste wat dink hulle is beter as die ANC-kaders en is hulle uit hul poste gewerk. Daar is talle sulke voorbeelde. Statistiek SA het in November 2015 aangedui dat daar bykans 6 000 vakante water-verwante poste in munisipaliteite landwyd is.

“Nou het hierdie onheilige eier uitgebroei en voorspel dit groot gevaar in ʼn droë land. Hierdie wilde regerings-ondernemings wat aan Wilde Weste-rolprentavonture herinner, is wat gebeur wanneer arrogansie en gretigheid saamgevoeg word. Dit alles gebeur terwyl Eskom verwaarloos is en nou selfs al kla van ʼn krimpende verbruikersbasis.

“Die probleem rakende kragopwekking is besig om met bestaande bronne opgelos te word en daarom is enige planne om waterbesoedelende projekte aan te pak nie meer nodig nie. Die departement moet hom eerder daarop toespits om die basiese reg te kry, soos die onderhoud van die nasionale waterstelsel en die vervolging van diegene wat dit besoedel,” sê adv. Alberts.