Net soos met Nkandla, sal pres. Jacob Zuma wel uitvind dat ontkennings en stilswye nie die Gupta-beweringe sal laat verdwyn nie, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder sê die erkenning van mnr. Mcebisi Jonas, adjunkminister van finansies, dat die Gupta-familie hom die pos van minister van finansies aangebied het, het ingrypende implikasies vir president Zuma. Dit verswak sy posisie in die openbare oog en waarskynlik ook binne die ANC verder.

“Me. Vytjie Mentor het presies dieselfde stellings oor die Guptas se rol gemaak en oor hoe hulle haar ʼn ministerspos aangebied het. Die logiese afleiding is nou dat al die skinderstories die afgelope tyd rondom minister Nene se afdanking dan ook waarskynlik korrek is.

“Tans is daar adjunkminister Jonas se weergawe van gebeure. Die Gupta-familie het ʼn ander weergawe en president Zuma ʼn derde weergawe. Die VF Plus vra dat die Openbare Beskermer (OB) of ʼn regterlike kommissie die Guptas se invloed en rol in die regering ondersoek.

“Dit is die enigste manier hoe ons by die waarheid tussen al die weergawes sal kan uitkom en hoe president Zuma op ʼn geloofwaardige wyse sal kan bewys dat die Guptas nie op hierdie wyse invloed in die regering uitgeoefen het nie.

“Verder is dit teleurstellend dat president Zuma nie Donderdag se vraetyd in die parlement gebruik het om sy kant van die saak te stel nie. Deurdat hy weer soos in die verlede die vrae oor hierdie saak ontduik het, word dit as ʼn bevestiging van al die bewerings gesien. Sy ontkennings gaan ook nie maak dat die Gupta-probleem sal weggaan nie,” sê dr. Mulder.