Die staat se nuwe, eensydige vertolking van kodes vir Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) ingevolge waarvan ondernemings punte op die SEB-telkaart verwerf, is onwettig en sal groot druk plaas op alle buitelandse beleggings, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Hy sê veral so kort na die Amerikaanse hoender-invoerdebakel kan dit Suid-Afrika se deelname aan die Amerikaanse wet op groei en ontwikkeling in Afrika verongeluk en grens dit aan ekonomiese selfmoord.

Luidens ʼn berig in vandag se Business Day het Suid-Afrika se departement van handel en nywerheid Dinsdag uit die bloute ʼn kennisgewing uitgereik oor sy eensydige vertolking van die nuwe SEB-bemagtigingskodes wat op 1 Mei van krag geword het.

Dit bepaal onder meer dat breë basis swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB) en werknemers se aandeelhouding in eienaarskapskemas ondergeskik gestel sal word aan persoonlike eienaarskap van aandele op die SEB-telkaart.

Dit is ʼn groot terugslag vir maatskappye wat reeds op hierdie basis ʼn deel van die eienaarskap aan swart werknemers of gemeenskapsliggame oorgedra het.

Adv. Alberts sê hierdie eensydige verandering van die stelsel om SEB-punte toe te ken, is onwettig aangesien geen konsultasie plaasgevind het nie en dit nou talle ondernemings van hul bestaande SEB-telling ontneem.

“Die VF Plus gaan die Amerikaanse kongres bewus maak van die nuwe drakoniese las op ons ekonomie sodat die kongres dit met die ANC-regering kan opneem. Die VSA is reeds bekommerd oor die eienaarskap-beperkings op oorsese beleggers rakende veral sekuriteitsbesighede.

“Die ekonomiese reëls van die ANC is nou waarlik fascisties aangesien ANC-kaders bevoordeel word deur SEB-transaksies waar eienaarskap oorgedra word. Dus beheer die regering deur ANC-aandeelhouers in maatskappye ekonomiese aktiwiteite tot voordeel van homself,” sê adv. Alberts.