Noord-Kapenaars behoort geld uit elektrisiteit te maak, liewer as om daarvoor te betaal. Die provinsie se sonskyn is oorvloedig en om krag daarvan op te wek, is al ʼn geruime tyd goedkoper as Eskom-krag. Daarom is die moontlike afsny van party dorpe se krag soos om in ʼn dam water van dors te vergaan. Dit is die mening van mnr. Danie Coetzee, die VF Plus se woordvoerder oor energie in die Noord-Kaap en bekende boer van Upington.

Tegniese uitdagings en koste plaas lankal nie meer ʼn beperking op die lewering van sonkrag nie. Die probleem is nou burokraties van aard met ʼn onbevoegde Eskom wat probeer klou aan sy gunstige posisie in die mark en munisipaliteite wat bang is om hulle inkomste uit kragverkope te verloor. Dit is hoogtyd dat die kragnetwerk oopgestel word, sodat verbruikers met sonkragstelsels vergoed kan word vir krag wat hulle aan die netwerk lewer.

Munisipaliteite en Eskom wat oor die verspreidingsnetwerk beskik hoef nie inkomste prys te gee nie, maar sal hul besigheidsmodel moet aanpas. Hulle verkies egter om agter fiktiewe tegniese probleme te skuil. Die VF Plus bied sy kundigheid in die verband met graagte aan, sê Coetzee.

Die provinsiale leier van die VF Plus in die Noord-Kaap, dr. Wynand Boshoff, beklemtoon dat strukturele veranderings om sonkrag te bevorder gewone burgers in staat kan stel om die kragkrisis te help oplos. Dit vorm die grondslag van die VF Plus se veldtog vir die komende plaaslike verkiesing en die party se strewe na selfstandige gemeenskappe.