Dit was roekeloos en uiters teleurstellend van die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) om Eskom se swak bestuur te kondoneer deur in te stem tot ʼn kragverhoging van 9,4%, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor energie.

Adv. Anton Alberts sê die VF Plus is sterk gekant teen die verhoging, veral aangesien Eskom self bekommerd is oor die feit dat sy kliëntebasis deurlopend besig is om te krimp. Die jongste verhoging sal hiertoe bydra, en sal daartoe lei dat al hoe minder kliënte Eskom voortaan sal moet dra.

Hy sê die VF Plus is van mening dat Eskom sy interne vermorsing sal moet staak en daarmee saam sy nie-lonende verskaffingskontrakte met die Gupta’s en ander bemagtigingsmaatskappye moet beëindig om weer winsgewend te kan raak.

“Die VF Plus sal sy stem voeg by dié wat antwoorde van Nersa eis oor die verhoging. Dit kan nie langer geduld word dat ʼn klein groepie betalers toenemend gemelk word om te betaal vir staatsbeheerde maatskappye se vermorsing en onbehoorlike bevoordeling van kaders nie.

“Gesien in die lig van die land se swak ekonomiese groei, is hierdie verhoging uiters ondeurdag en sal dit die land groot skade aandoen. Die VF Plus verwerp dit met minagting,” sê adv. Alberts.