• Post category:All / Government

President Zuma se besluit om minister Nhlanhla Nene met ʼn onbekende ANC-lid te vervang as minister van finansies is oorhaastig en ondeurdag sonder enige begrip vir die finansiële en ander implikasies wat dit vir Suid-Afrika gaan hê.

In ʼn tyd van groot finansiële probleme vir die regering demonstreer president Zuma met hierdie besluit dat hy alle kontak met Suid-Afrika se finansiële realiteite verloor het. Die ekonomiese prys wat die land en alle Suid-Afrikaners hiervoor gaan betaal, gaan onherstelbaar wees.

Minister Nene se standpunte oor regeringsbesnoeiings en finansiële dissipline tydens die onlangse medium termyn-begrotingsrede het ʼn groot rol gespeel dat Suid-Afrika nie deur die internasionale graderingsmaatskappye heeltemal afgegradeer is nie. Die groot vraag is of dit nou so sal bly.

Die onmiddellike impak van die besluit sal op die rand se wisselkoers en die aandelebeurs gesien word.